Sunday, October 31, 2010

Vrou skiet rower dood

Hilda Fourie
Dit was soos die “Wilde Weste” toe ’n vrou en ’n boef op mekaar geskiet het tydens ’n aanval op ’n kleinhoewe in Boschkop, in die ooste van Pretoria.

Mev. Madi Ditmars (50) is in dié voorval Vrydagaand een keer in die skouer getref en die aanvaller se lyk is sowat 300 m van haar huis gevind.

“Dié was nie ’n rasverwante voorval nie. Dit was roof,” het haar man, mnr. Jan Ditmars (59), gister gesê.

Mnr. Ditmars was voor 1994 deel van die anti-apartheidsbeweging en het van Nederland na Suid-Afrika geïmmigreer omdat hy gemeen het hy kan ’n bydrae tot die land lewer.

Hy en sy vrou het ook met die 1994-verkiesing gehelp.

“Op ’n manier is die roof geregverdig weens armoede en die baie ongelykhede in die land. Dit is maar net van die redes vir die misdaad in Suid-Afrika, dink ek.

“Maar dit is nie heeltemal geregverdig om in iemand se huis in te loop en net te begin skiet nie,” het hy gesê.

Die egpaar was Vrydag omstreeks 19:15 in hul leefkamer, wat ook ’n kantoor is.

Mev. Ditmars het uitgegaan na die binnehof. Sy het die alarm gaan stel sodat dit by die buitedeure geaktiveer is en nie in die huis nie.

Volgens haar man moes die boewe hulle dopgehou het.

Terwyl mev. Ditmars met die alarm doenig was, het vier haar oorval en die huis ingeneem.

Mnr. Ditmars, wat op sy rekenaar gewerk het, het stemme gehoor. Hy het in die binnehof se rigting beweeg toe die rowers en sy vrou instap.

“Ek het met die een rower begin stoei om hulle aandag af te trek sodat my vrou haar vuurwapen kon kry.

“Sy het aan die een met die vuurwapen gesê sy wonder of sy vuurwapen gelaai is. Hy het toe ’n skoot in die plafon afgevuur.

“My vrou het hom toe geskiet. Baie kere. Hy het teruggeskiet en probeer om haar vuurwapen af te neem. Dit was soos die Wilde Weste,” het hy gesê.

“Ek weet nie wanneer nie, maar my vrou is in die proses raak geskiet.”

Die aanvallers het gevlug sonder om iets te buit.

Mnr. Ditmars het die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum gebel. Dié het die nooddienste en die polisie gebel.

Sy vrou is in ’n stabiele toestand in ’n plaaslike hospitaal opgeneem.

Die polisie het ’n aanvaller se lyk sowat 300 m van die huis gevind.

“Ons is nie trots daarop dat iemand dood is nie. Baie sal sê dit is goed dat die man doodgeskiet is, maar dit is nie ons gevoel of bedoeling nie. Ons berou dit dat iemand dood moes gaan,” het mnr. Ditmars gesê.

No comments:

Post a Comment