Sunday, October 31, 2010

Skok ná dokter in hospitaal verkrag is

Pieter Steyn



Skok, afgryse en woede heers nadat ’n dokter in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein aangeval en verkrag is terwyl sy aan diens was.

Mnr. Fidel Hadebe, woordvoerder van dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het die voorval aan Volksblad as “barbaars” beskryf.

Die veiligheid by hospitale is vir hom ’n bron van groot kommer.

Die grusame aanval kan ook vandeesweek ’n krisis by die hospitaal veroorsaak, omdat vroulike dokters te bang is om snags hier te werk.

Dokters kla al lank oor die swak veiligheid hier.

Selfs ná die aanval Saterdag vroeg is die veiligheid steeds pateties.

Die 35-jarige dokter, wat in pediatrie spesialiseer en wat baie gelief is onder die kinderpasiënte, was Saterdag omstreeks 02:00 op pad na die neonatale eenheid op die grondvloer toe drie mans haar op ’n donker trap oorval en met ’n baksteen in die gesig geslaan het.

Al drie aanvallers het haar verkrag. Een van hulle is net 16.

Nadat hulle gevlug het, het sy haar weg gebaan na die neonatale eenheid waar ’n studentedokter haar gehelp het om haar man te bel.

Die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe het ure later drie mans in hegtenis geneem.

Hulle verskyn vandag in die Bloemfonteinse landdroshof.

Verskeie vroulike dokters het aan Volksblad gesê hulle is te bang om saans te werk.

Hulle mag egter nie weier om te werk nie, ongeag die swak veiligheid by die grootste hospitaal in die sentrale streek.

Pelonomi, wat meestal die armstes onder die armes bedien, word vandeesweek geassesseer om sy akkreditasie as opleidingshospitaal te behou of nie.

Volgens die slagoffer se kollegas is sy een van die vriendelikste, bekwaamste en hardwerkendste dokters in pediatrie.

“Sy het haar eie televisiestel en DVD-speler gebring sodat die pa­siëntjies kan TV en DVD’s kyk. Sy is nou betrokke by die kindertjies en het ’n groot liefde vir hulle. Hulle is mal oor haar.”

Volgens hulle skroom sy nooit om vroeër te begin werk nie of lank nadat haar skof geëindig het, aan te hou werk.

“Sy is werklik ’n sagte mens.”

Prof. André Venter, hoof van pediatrie, het gister by navraag gesê: “Pediatrie gaan aan. Ons is bewus van die voorval en het gedoen wat ons kon.”

Mnr. Jabu Mbalula, woordvoerder van die gesondheidsdepartement in die Vrystaat, het erken veiligheid by Pelonomi is swak.

Die departement het sy eie ondersoek na die voorval gedoen en indien nodig, sal stappe teen nalatige personeel gedoen word.

Me. Amanda Appelgryn, woordvoerder van die Bloemfontein-Medi-Clinic, het bevestig die dokter is Saterdag hier vir ’n fraktuur aan die wangbeen geopereer en is gister ontslaan.


- Die Burger

1 comment: