Thursday, October 28, 2010

Boere smeek polisie: ‘Ondersteun ons!’

Alta Snyman
Swartruggens. – Ons het die ondersteuning van die polisie nodig in die stryd teen vee- en kabeldiefstal, anders gaan ons uitboer.

Dit was gister die kort en kragtige boodskap wat lede van TLU SA op ’n vergadering hier aan mnr. Howard Yawa, Noordwes se LUR vir openbare veiligheid, en genl.maj. William Mpembe, provinsiale adjunkhoof van die polisie, oorgedra het.

Verskeie tros- en stasiebevelvoerders van die polisie, amptenare van Yawa se departement en boere het die vergadering ook bygewoon.

Mnr. Wilhelm Roche, voorsitter van TLU SA, het die vergadering namens die boere belê.

Hy het gesê daar is talle voorvalle van diefstal waar die plaaswag verdagtes aankeer en aan die polisie oorhandig, maar niks gebeur verder nie.

Weens swak ondersoekwerk moet die sake teruggetrek word.

“Dit is onaanvaarbaar. Ons het meer ondersteuning van die polisie nodig. Ons het al verskeie vergaderings met die polisie op provinsiale vlak gehad, maar niks gebeur nie.

“Ek is jammer om dit te sê, meneer die LUR, maar die ondersteuning van die polisie, asook die ondersoekwerk wat hulle doen is nie op standaard nie.”

Yawa het gesê hy het sowat twee weke gelede tydens ’n besoek aan Swartruggens besef die boere is baie gefrustreerd. “Ons moet na die uitdagings kyk. Die boere is deel van die ekonomiese komponent van ons land.”

Mpembe het dit benadruk dat die polisie se provinsiale topbestuur die klagte as baie ernstig beskou, vandaar die hoëprofiel-afvaardiging.

Mnr. Frikkie Pretorius, ’n prokureur van die dorp wat TLU SA bystaan en ondersteun, het aan Yawa gesê die belewenis in die distrik is dat die polisie óf nie in staat is om die boere te beskerm nie, óf dit nie wil doen nie.

“Beloftes word gemaak, maar niks gebeur nie.”

1 comment: