Monday, October 11, 2010

Nasionalisering en onteiening

Geskryf deur Herman Toerien
Woensdag, 06 Oktober 2010 09:43
‘n Hofsaak wat nou plaasvind, gaan rigtinggewend wees vir nasionaliseringsplanne.
In die Noord-Gautengse Hooggregshof in Pretoria eis Agri SA altesaam R99 miljard namens sy lede van die staat weens die wyse waarop boere in 2004 hul besitreg op die sogenaamde ondergrond van hul eiendom kwyt is.

In wese het die wetgewing die staat die voog van alle mineraaleregte, namens al die inwoners van die land, gemaak.

Hierdeur het boere ‘n bate verloor wat dikwels as sekuriteit aangebied kon word, dikwels losstaande verkoop is, en wat soms welvaart gebring het as daar goud of ander minerale in die grond was.

Met die – wat Agri SA die onteiening van mineraleregte noem – het soms haas ongehoorde situasies ontstaan. Die sogenaamde soutboere, mense wat klein lappies grond gekoop het ter wille van die soutpanne daarop, het skielik gevind hulle besit basies waardelose lappies grond. Enigeen kon aansoek doen vir die regte om die sout te ontgin, en weens die beleid van die regering, het swart aansoekers, of instansies met swart aandeelhouding, voorkeur gekry.

Onder die sake wat in die hof gaan draai het was ‘n wildboer wat op ‘n dag ontdek het sy grensdraad is geknip, en iemand was besig om met die nodige dokumentasie, ‘n gruisgroef op sy plaas in te rig.

Die wyse waarop die mineraleregte by Sishen eienaarskap verwissel het, word as een van die land se grootste skandale van nepotisme beskou.

Tot grondwater het die eiendom van die land se mense geword, of anders gestel, is nou staatsbesit.

Die staat se ontkenning dat dit op die onteiening neerkom, het ervare regsgeleerdes in onbegrip die kop laat skud.

In ‘n stadium het die regering aangedui dat oorweeg word om ook die bogrond tot nasionale bate te verklaar, ten einde die grondhervormingsproses makliker te laat vorder. Teen die agtergrond van wat met die ondergrond gebeur het, kan niemand verkwalik word as hy dit as ‘n kwalik bedekte metode beskou het om plase te onteien nie.

Ongeag die uitslag van hierdie uitspraak gaan dit in alle waarskynlikheid uiteindelik ‘n draai in die grondwethof maak. Baie van die beginsels wat ter sprake is, het ooreenkomste met die baie bekende Modderklip-saak, waar plakkers in effek ‘n boer se grond beset, en die staat skouers opgetrek het. Die nuwe saak kan in baie opsigte ‘n waterskeidingsaak wees.

Die implikasies is legio. Soos sake nou staan, sal baie detail spandeer moet word aan die status van mineraleregte sou daar in ‘n stadium ‘n tipe volkstaat begin ontwikkel soos waarvoor die grondwet in teorie voor voorsiening maak. Kom die staat hiermee weg, kan die vraag gevra word van wat nog veilig is, selfs sonder die wysiging van die grondwetlike beskerming van eiendomsreg.

Bedoeld of onbedoeld, die kwessie het reeds tot ‘n nuwe rassedispuut gelei, waar persepsies die botoon voer. In kommentaarkolomme word ten gunste van die regering aangevoer wit mense het swart mense se grond gesteel. Argumente ten gunste van Agri SA is dat dié instelling nie net wit boere verteenwoordig nie. Van ‘n weergawe wat die land se werklike geskiedenis weergegee word is min tekens...veel eerder handel dit oor persepsies van die geskiedenis wat vermaarde geskiedskrywers soos Theal tot die irrelevante reduseer.

No comments:

Post a Comment