Wednesday, October 27, 2010

Verkragtingslagoffer se susters kry dreigoproepe

Pieter Steyn



Twee susters van me. Monya Holtzhausen (21), wat Vrydagoggend wreed verkrag is, kry nou dreigoproepe van die vermeende aanvallers.

Só vertel Holtzhausen se ouer suster, wat nie haar naam gepubliseer wil hê nie.

Holzhausen, haar verloofde, mnr. Quintin Steyn (23), en hul eenjarige seuntjie is Vrydagoggend aangeval.

Een van die vermeende verkragters het gister ’n vriend van Holzhausen se suster gebel en glo gedreig dat Holzhauzen se twee susters “volgende” is en hy “weet waar hulle bly”.

“Ons is bang. Ons slaap nie meer in ons huise nie,” het een van Holzhausen se susters gister aan Volksblad gesê.

Holtzhausen, haar verloofde en hul seuntjie is Vrydag in die vroeë oggendure in hul huis deur vier gewapende mans op hul hoewe in Estoire, buite Bloemfontein, aangeval. Hulle het die paartjie met traangas gespuit en geblinddoek, waarna hulle met Monya in haar motor, eers na ’n huis en later na ’n veld gery het, haar klere uitgetrek het en haar verkrag het.

Die vermeende aanvallers het elektriese toestelle op Steyn se bakkie gelaai en met hom en hul seuntjie, wat aan hom vasgemaak is, na ’n township by Bloemfontein gery.

“Dit gaan in dié stadium beter met Monya. Sy kon Sondag vir die eerste keer eet en kon eergister die eerste keer weer normaal loop en sit.”

Volgens haar suster praat Monya oor die tragiese gebeure daardie nag en sê sy “sy doen haar bes en vat dit dag vir dag”.

Monya, wat meer as drie maande swanger is, se ongebore baba is in dié stadium buite gevaar.

“Sy gebruik antiretroviralemiddels en spreek gereeld ’n berader.”

Die paartjie se seuntjie is baie getraumatiseer.

“Hy is normaalweg ’n rustige baba. Ná die aanval is hy soms huilerig en bakleierig. Die aanvallers het traangas in sy regterogie gespuit en dié is nog maar seer. Ons moes al hul klere weggooi en nuwe klere koop. Ons kry nie die traangas uitgewas nie. Sy lyfie brand daarvan. As Monya nie by hom is nie, vra hy die hele tyd waar sy is. Ons probeer hom weer in sy roetine kry. Sy hondjie, Peanut, help baie. Hy verjaar 10 November, dan sal hy twee jaar oud wees.

“Quintin kry baie nagmerries en angsvalle. Hy en hul seuntjie gaan ook vir berading.”

Volgens haar suster voel hulle magteloos.

“Die een dag gaan dit beter, die volgende dag minder goed. Ons kry geweldig ondersteuning van die publiek en ons familie en vriende. Ons het letterlik al duisende oproepe en SMS-boodskappe gekry.”

Die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe sê hulle is besig met ’n intensiewe ondersoek en volg leidrade op. Geen inhegtenisnemings is nog gedoen nie.


- Volksblad

1 comment: