Wednesday, October 20, 2010

Polisie meer as 3000 wapens kwyt in ’n jaar

Lizel Steenkamp

Kaapstad - Tot 3 226 polisiewapens is die afgelope boekjaar gesteel of verloor.

Dit is ’n toename van 17% in vergelyking met die 2008-’09-boekjaar toe 2 759 wapens gesteel is en is die derde jaar in ’n ry dat die polisie dié diefstalle nie onder beheer bring nie.

Me. Dianne Kohler Barnard, DA-LP, het gister gesê sy gaan die ouditeur-generaal versoek om die polisie se vuurwapenbeleid te ondersoek. “Dis duidelik dié stelsel werk nie en gewone Suid-Afrikaners se lewens word in gevaar gestel omdat polisiewapens op straat beland.”

Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het onlangs in die parlement gesê net 233 polisiewapens is in die 2009-’10-boekjaar teruggevind.

Volgens Kohler Barnard word beamptes nie vir die wapenverliese aanspreeklik gehou nie – net 26 beamptes is aan tugstappe onderwerp en net 18 is skuldig bevind.

Intussen het lt.genl. Richard Mdluli, nasionale intelligensiehoof, gister aan die portefeuljekomitee oor polisie gesê tot R39,1 miljoen is die afgelope boekjaar aan geheime informante vir inligting betaal. “Op sy beste is dit ’n groot uitdaging om informante te betaal, want dis nie asof jy ’n faktuur (vir hul dienste) ontvang nie. Al waarop hul name verskyn is ’n informantregister.”



- Die Burger

No comments:

Post a Comment