Wednesday, October 27, 2010

Gewapendes buit 7 renosterhorings in Limpopo

Marietie Louw-Carstens

Polokwane

’n Bende gewapende mans het ’n wildvanger en ’n veearts naby Bela-Bela (Warmbad) aangehou en sewe renosterhorings uit ’n kluis gesteel.

“Julle weet hoekom ons hier is,” het die vier rowers aan mnr. Hans Kooy en sy vriendin, dr. Jana Pretorius, gesê toe hulle Saterdagaand by die Thaba Manzi-lodge toegeslaan het.

Toe die paartjie sê hulle weet nie hoekom nie, het die aanvallers glo gesê hulle “soek die renosterhorings”.

Dié rooftog volg ’n dag nadat ’n twee maande oue renosterkalfie wees gelaat is toe sy ma op ’n wild­plaas buite Mookgophong (Naboomspruit) doodgeskiet is. Nog vier renosters op die plaas is gewond, maar het oorleef en hul horings behou.

Kooy het op 5 Oktober permitte van Limpopo se departement van omgewingsake gekry wat hom magtig om die sewe horings te besit. Hy het besluit om die renosters op sy plaas se horings af te sny nadat een van die diere sowat twee maande gelede doodgeskiet en die horing afgekap is.

Kooy en Pretorius het televisie gekyk toe die rowers ’n skuifdeur met ’n pik stukkend geslaan het. Een van die mans het Pretorius op die grond vasgedruk terwyl sy makkers saam met Kooy na die kluis toe is. Pretorius se 9mm-pistool, R15000 kontant, ’n skootrekenaar, selfone en ’n .375-rewolwer is ook gebuit.

Die rowers was gister nog op vrye voete. Die polisie is ook nog op soek na die stropers wat die renosters naby Mookgophong geskiet het.

Mnr. Mike Boon het Vrydag plaaswerkers gestuur om na die renosterkoei te gaan soek omdat haar kalf sedert verlede Woensdag alleen op sy plaas Vlakfontein rondgedwaal het. Hulle het haar karkas gekry.

Lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê daar was drie koeëlgate in die renoster. Albei horings is met ’n byl afgekap. Altesaam 24 patroondoppies is by die karkas opgetel. Dit wil voorkom of die koei met ’n kleinkaliber-vuurwapen geskiet is.

’n Helikopter is gebruik om na die renosterkalfie te soek. Terwyl dr. Louis Greeff, ’n veearts van Thabazimbi, na die kalfie gesoek het, is nog vier gekweste renosters vanuit die helikopter op Vlakfontein gesien. Hul horings is nie afgekap nie.

Die kalf en vier gekweste renosters is Saterdag vanuit die helikopter verdoof. Die renosters is vir skietwonde behandel. Die kalf is nie beseer nie en is na ’n boma op die plaas geneem.

Boon wou nie gister oor die voorval uitwei nie

Dié strooptog blyk die eerste een in Limpopo te wees sedert 11 vermeende lede van ’n renostersindikaat sowat ’n maand gelede in die Musina-hof verskyn het.




- Die Burger

No comments:

Post a Comment