Monday, October 11, 2010

Vrou pleit, maar kry doodskoot

André Damons
‘Ek het daai twee tewe geskiet. Ek’s klaar met hulle. Ek het hulle doodgemaak.”

So het ’n veiligheidswag eergister aan ’n kollega gesê kort nadat hy na bewering twee vrouekollegas met ’n haelgeweer by ’n Transnet-depot net buite Krugersdorp doodgeskiet het.

Die een vrou het nog vergeefs om haar lewe gepleit nadat die eerste skoot geklap het.

Die wag het sy kollega ná die skietery opdrag gegee om die polisie te bel “omdat hy wou gaan lugtyd koop”.

Die vroue het, nes hul vermeende moordenaar, vir die Fidelity Security Group gewerk. Hy doen diens by Transnet se ingenieursdepot in Millsite en hulle was veiligheidswagte by Transnet se lokomotiefdepot langsaan.

Die twee vroue het omstreeks 09:45 by die ingenieursdepot-perseel ingestap, het ’n vierde veiligheidswag, wat anoniem wil bly, gister aan Beeld vertel.

“Ek het hulle gevra waarmee ek hulle kan help en wat hulle soek. Hulle het gesê dit het niks met my te doen nie en dat hul senior hulle gestuur het.”

Die getuie het gesê sy kollega was van die begin af baie aggressief toe hy die twee vroue sien.

Volgens hom het die kollega na die kantoor gestap om na die vroue te gaan soek. Hy het egter kort daarna teruggekom en gesê hulle is nie daar nie.

“Hy is toe agtertoe om verder na hulle te soek en nie lank nie toe hoor ek ’n skoot afgaan. Ek het my pistool gegryp en uitgehardloop om te gaan kyk. Toe hoor ek ’n vrou skreeu: ‘Moet my nie skiet nie, moet my nie doodmaak nie, asseblief. Wie gaan na my kind omsien?’ Toe klap nog ’n skoot.”

Die vroue se lyke het sowat 100?m van mekaar gelê.

Volgens die getuie het die vermeende moordenaar na hom aangestap gekom en gesê: “Ek het daai twee tewe geskiet. Wat soek hulle hier? Wat soek hulle op my f****n perseel? Ek het hulle doodgemaak.”

“Hy het gesê ek moet die polisie bel,” het die ooggetuie gesê. “Ek het my broek natgemaak, want ek het gedink hy gaan my skiet.”

Hy het die polisie gebel nadat hy sy kollega oorreed het om sy wapen toe te sluit. Die polisie was binne minute op die toneel.

Terwyl die getuie nog met die polisie gepraat het, het die vermeende skieter teruggekom en gesê: “Sê vir hulle (die polisie) ek is terug.”

Hy is toe in hegtenis geneem.

Volgens ao. Odette van Staden, polisiewoordvoerder, is die een vrou in die gesig geskiet en die ander in die lyf.

Die man sal na verwagting vandag in die hof in Krugersdorp verskyn.

Die name van die oorledenes is teen druktyd nog nie bekend gemaak nie.

No comments:

Post a Comment