Monday, October 18, 2010

Bende skiet held

Buks Viljoen
’NPolisieman van Balfour wat onlangs heldestatus verwerf het toe hy ’n jong drenkeling gered het, lê in ’n ernstige toestand in die hospitaal nadat hy vyf keer deur inbrekers geskiet is.

Ao. Jan Pretorius is gister omstreeks 05:00 ernstig gewond toe hy in ’n skietery met ’n bende wat by ’n winkel in die dorp wou inbreek betrokke was.

Terwyl hy swaar gewond op die grond gelê het, het hy op ’n inbreker losgebrand wat al skietende op hom afgestorm het.

Die booswig is raak geskiet en het enkele meter van Pretorius af dood neergeval.

Volgens kol. Abie Khoabane, groephoof van die polisie in die Balfour-gebied, is die bende betrap toe hulle deur die sinkdak van die gebou waarin Pep Stores is, ingebreek het.

’n Lid van die publiek het glo gesien hoe die inbrekers op die gebou se dak loop en het Pretorius, wat van diens af was, gebel.

Op pad daarheen het Pretorius nog polisielede ontbied.

Khoabane sê daar is op Pretorius geskiet toe hy by die toneel opdaag.

Pretorius is twee keer in die regterbeen, in albei voete en die regterskouer getref.

Ten spyte van sy beserings het hy self die ambulansdiens gebel en hulp gevra.

Die pistool in die hand van die inbreker wat doodgeskiet is, is ook in die skietery getref.

Die ander drie inbrekers het van die toneel af gevlug.

Daar is later vasgestel dat die pistool wat by die inbreker se lyk gekry is, vroeër by die polisie gesteel is.

Kommersiële plofstof is by die kluis in die winkel gekry.

Die polisie het later ook ’n pak met plofstof buite die winkel opgetel.

“Hulle wou waarskynlik die kluis daarmee opblaas,” sê Khoabane.

Die swaar gewonde Pretorius is in die Unie-hospitaal in Alberton opgeneem.

Sy toestand was teen druktyd steeds ernstig, maar stabiel, het me. Lorinda Xavier, woordvoerder van die hospitaal, gesê.

Beeld het in Augustus berig hoe Pretorius ’n seun gered het wat byna in ’n dam buite Balfour verdrink het.

Pretorius het in daardie stadium by die dam verby gery en die kind in die water sien spartel.

Hy het die dam ingestorm, die kind uitgedra en mond-tot-mond-asemhaling op hom toegepas.

Die kind het later opgespring en weggehardloop.

Pretorius het drie maande gelede tydens ’n rooftog ook benoude oomblikke beleef toe hy met ’n mes aangeval is.

Hy het egter ongeskonde uit die aanval gekom omdat die mes in sy koeëlvaste baadjie vasgesteek het.

1 comment: