Sunday, October 31, 2010

Nagmerrie in Bfn-strate

Pieter Steyn



’n Gesellige aand saam met vriende het vir twee jong mans van Bloemfontein in ’n nagmerrie geëindig toe hulle na bewering erg deur polisiebeamptes aangerand is.

’n Wit Volkswagen Polo, soos dié een waarin die beamptes in dié voorval was, was volgens oogge-tuies ook betrokke by ’n ander voorval waarin jong mense in hul motor in die stad afgetrek en deur polisiebeamptes met ’n vuurwapen gedreig is. (Lees berig op bl. 2.)

Die Polo is nêrens as ’n polisievoertuig gemerk nie. In albei gevalle het die jong mense gemeen die insittendes van die Polo wil hulle probeer kaap.

Lt.kol. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, het bevestig die wit Polo met die spesifieke registrasienommer behoort aan die Parkweg-polisiekantoor.

Mnr. Ryno Myburgh (23) en sy vriend mnr. Reinier van der Walt (19) het deurgeloop in die eerste “aanval”, maar nog niks gehoor van die onderskeie klagte wat hulle vyf dae gelede hieroor by die polisie ingedien het nie. Volgens Myburgh het hulle verlede Vrydagaand saam met vriende op ’n kleinhoewe buite Bloemfontein met ’n Playstation gespeel. Hulle is daar weg om te gaan wegneemetes koop.

“In Nelson Mandelarylaan het ’n wit ongemerkte Volkswagen Polo, met die registrasienommer DSR213FS, vir ons ligte geflits. Toe ons aanhou ry, het dit ons van die pad probeer druk. Ons het gedink hulle wil ons kaap en het probeer wegjaag,” het Myburgh aan Volksblad vertel.

Myburgh wou by Standard Bank se parkeerterrein indraai om die Polo af te skud, maar het beheer verloor en teen ’n paal gebots.

“Toe ek en Reinier uitklim, het vyf polisiebeamptes, vier mans en ’n vrou, uit die Polo geklim en ons onmiddellik begin skop en slaan. Toe eers het ek gesien hulle is polisiebeamptes.”

Volgens Myburgh het die beamptes aanhoudend gesê hy en Van der Walt moet stilbly en lê.

“Kort daarna stop ’n vangwa van die polisie en daardie beamptes begin ons ook skop en slaan. Ek het gedink ek gaan flou word en het regop probeer beur. Toe skop een my in die gesig dat ek agteroor val. Die ander het almal gelag.”

Myburgh het telkens gevra wat hulle verkeerd gedoen het. Al antwoord was dat hy nie in ’n posisie is om vrae te stel nie.

“Eers toe ’n insleepdiens-bakkie op die toneel aankom, het die beamptes opgehou om ons te skop.”

Volgens Myburgh is hy en sy vriend toe geboei in die vangwa gegooi en na die Parkweg-polisiekantoor gebring waar hulle in selle aangehou is. “Later het ’n beampte kom sê hy gaan my beboet omdat ek oor ’n rooi verkeerslig gery het. Ek het dit ontken, maar hy het nie na my geluister nie en ’n boete van R1000 uitgeskryf. Hy het gesê ek moet my pa bel om ons te kom haal. My selfoon is stukkend geskop in my sak, maar kon nog bel.”

Die boete is onderteken deur ene sers. Mokoeleme, wat volgens Myburgh die bestuurder van die Polo was. Myburgh en Van der Walt het Maandag albei ’n klag van aanranding by die Parkweg-polisiekantoor ingedien oor die voorval, wat verlede Saterdag omstreeks 01:30 gebeur het. “Toe ons die Maandag by die polisiekantoor opdaag om die klagte in te dien, het ’n ao. Pienaar vir my pa gesê hy moet die voorval op ’n ‘briefie’ beskryf. Die polisie sal die saak intern hanteer.”

Hulle het nogtans klagte ingedien. “’n Week later het ons niks gehoor nie. Ek het ’n SMS gekry met die saaknommer en dat ’n kapt. Oosthuizen die ondersoekbeampte is. Verder nog nie ’n woord nie.”

Myburgh sê ’n beampte in die aanklagkantoor het hom aangemoedig om die klag in te dien, aangesien dit glo gereeld gebeur dat dié beamptes naweke met die ongemerkte wit Polo jong mense intimideer of aanrand.

Wrensch sê die twee klagte van aanranding word deur die polisie ondersoek en die klaers sal binnekort genader word.




- Volksblad

1 comment: