Monday, October 11, 2010

Dubbele slag vir gesin van Somerset-Wes

Ilse Krige
Stellenbosch - Die Koorts-gesin van Somerset-Wes het dié naweek ’n dubbele beproewing deurgegaan.

Nie net is mnr. Marius Koorts (61) Vrydag omstreeks 11:45 by sy werkplek langs die R44 in die been geskiet en in die waaksaal van die Stellenbosch Medi-Clinic opgeneem nie.

Daar is boonop dieselfde nag by die gesin se huis in Somerset-Wes ingebreek terwyl mev. Roelien Koorts en haar twee dogters ná die uitputting van die dag geslaap het.

Koorts, ’n skrynwerker by die Groote Schuur-antiekwinkel op ’n plaas buite Stellenbosch, is volgens die polisie Vrydag in die regterbobeen gewond. Drie vermeende rowers het hom vermoedelik van die dag se lone vir die werkers beroof, asook van sy motorsleutels en selfoon.

Mev. Koorts en haar kinders het Vrydagaand nadat hulle van die hospitaal af gekom het, gaan slaap.

In die middel van die nag het dié ma van twee wakker geword, blykbaar van die geluid van glas wat breek. Sy het onmiddellik gaan ondersoek instel. ’n Klein venster aan die agterkant van die huis was glo stukkend, maar die voornemende inbreker het hom uit die voete gemaak.

’n Vriend van die gesin wat anoniem wil bly, het vertel die gesin het aanvanklik gevrees die skietery en die inbraak hou verband met mekaar.

“Intussen is daar konsensus dat die twee voorvalle net toevallig op dieselfde dag gebeur het,” het die vriend verduidelik.

Mev. Koorts het glo ’n verklaring by die polisie gaan aflê oor die voorval. Die bure het haar gehelp om Saterdagoggend nog die stukkende ruit te vervang en sommer ook diefwering voor dié venster aan te bring.

Konst. Susan Jantjies, polisiewoordvoerder van Somerset-Wes, het ontken dat só ’n saak by hulle geopen óf aangemeld is. )Me. Carla Hanekom, kliëntediensbestuurder van die Stellenbosch Medi-Clinic, het vroeër bevestig die slagaar in Koorts se been is afgeskiet.

“’n Operasie is Vrydagmiddag uitgevoer waarna mnr. Koorts in die hoësorgeenheid aangesterk het.

“Hy is Saterdag na ’n algemene saal oorgeplaas en sy toestand is stabiel en bevredigend,” het Hanekom gister in ’n hospitaalverklaring gesê.


- Die Burger

No comments:

Post a Comment