Monday, October 11, 2010

Bejaarde (74), dogter op plaas oorval

Pieter Steyn
Bloemfontein - ’n Plaasaanval in die Hertzogville-distrik het inwoners van dié omgewing gister geruk.

Omstreeks 06:00 het mnr. Manie van Zyl (74) van die plaas Nooitgedacht, sowat 5km van Hertzogville, soos gewoonlik opgestaan om die hoenders te gaan kos gee, toe hy opmerk daar is met die veiligheidshek gepeuter.

Volgens sy dogter, me. Elmarie van Zyl (44), wat ook op die plaas woon, het Van Zyl uitgestap toe ’n man hom oorval en met ’n stuk yster aangerand het.

“My pa het geval en die man het by die huis ingestorm. My pa het agterna gekom en my geroep.

“Die aanvaller het my pa oor die tafel gestamp. Toe ek by die eetkamer inkom, het hy gereed gemaak om my pa met ’n stoel te slaan,” het me. Van Zyl gister gesê.

Toe hy haar sien, het hy haar gegooi met ’n glasdeksel van ’n pot wat daarnaby gestaan het.

“Die deksel het my onder die oog getref en my bril het gebreek. Hy het gesê hy soek ’n beursie.”

Van Zyl sê sy het daarin geslaag om die boosdoener op ’n manier weer uit die huis te kry.

“Hy het my met sy vuiste geslaan en gesê hy gaan my doodskiet as ek nie vir hom R100 gee nie. Hy het gevroetel in sy broeksak, klaarblyklik om ’n vuurwapen uit te haal.”

Volgens Van Zyl kon sy daarin slaag om die houtdeur toe te druk en te sluit. Die man het in die rigting van die nabygeleë Malebogo-woonbuurt gehardloop.

Mnr. Hannes de Jager, een van die koördineerders van die landelike veiligheidsprogram, het die boere van die omgewing laat weet en saam met die plaaslike polisie die verdagte se spoor gevolg.

Volgens kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, is die 31-jarige verdagte enkele ure ná die voorval in sy huis in die township in hegtenis geneem.

Hy word in die Boshof-polisieselle aangehou en sal môre in die hof verskyn op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en poging tot huisbraak.

Me. Van Zyl sê hulle is baie geskok, maar dankbaar dat hulle nog lewe.

“Ons bly nou eers twee maande op die plaas. Ek is baie bly nie ek of my pa is baie ernstig beseer nie.”

No comments:

Post a Comment