Tuesday, October 12, 2010

5 miljoen kan nie sorg vir 50 miljoen

Kommunisme is nie dood nie; dit is weer springlewend in lande soos Suid-Afrika, maar lyk anders as in die dae van Marx, Lenin en die Sowjetunie, skryf Flip Buys.

Die kommunisme is dood, of is dit? 20 jaar ná die val van die Sowjetunie is die kommunisme as ’n magsblok en ’n sterk politieke faktor iets van die verlede.

Daar is egter tans weer belangstelling in die stelsel weens die ekonomiese wêreldkrisis.

In enkele lande soos Suid-Afrika is daar ’n sterk herlewing van kommunisme, wat totaal onderskat word deur ’n gesagsorde wat net nie glo dat dit moontlik is nie.

Ná die val van kommunisme in 1990 is daar wêreldwyd aanvaar dat kommunisme nie meer ’n alternatief vir kapitalisme kan wees nie.

Selfs die Westerse sosiaal-demokratiese sosialiste moes hulself totaal herskep om te kon oorleef.

Die beste voorbeeld daarvan was die tradisioneel linkse Britse Arbeidersparty, wat onder leiding van mnr. Tony Blair met sy “New Labour” kapitalisme as beleid aanvaar het.

Die nuwe linkses het inderdaad reuse-denkspronge gemaak deur kernelemente van sosialisme te laat vaar.

Die belangrikste daarvan is dat hulle aanvaar het dat kapitalisme die enigste werkbare stelsel is en dat sosialisme nie meer ’n alternatief daarvoor is nie.

Daarbenewens is besef dat nasionalisering, sentrale beplanning en regstreekse staatsinmenging onwerkbaar is en dat Marxistiese temas soos die “klassestryd” uitgediend geraak het.

Die term sosialisme is vervang deur ander begrippe soos ’n “ontwikkeling­staat”.

Doelwit bly, metode verander

Die sosialistiese hervormers het egter nie hul doelwitte totaal afgeskaf nie. Hulle het eerder hul metodes ingrypend verander.

Kerndoelwitte van die sosialisme, soos “maatskaplike geregtigheid” in die gedaante van gelyke uitkomste en die uitwissing van armoede, is behou.

Die nuwe sienswyse was egter dat dit ten beste bereik kan word deur kapitalisme.

Kapitalisme is teësinnig aanvaar omdat dit die enigste stelsel is wat genoeg welvaart kan skep sodat daar genoeg vir almal kan wees, mits sosialisme dit net “gelyker” kan verdeel.

Ekonomiese groei speel volgens dié benadering ’n noodsaaklike rol ter bereiking van sosialistiese doelwitte.

’n Groeiende ekonomie is immers nodig sodat die staatskas genoeg belasting kan insamel om ’n welsynstelsel vir die armes te finansier.

Daarmee saam sal die rykes net gewillig wees om vir die armes se welsynsdienste te betaal as die ekonomiese groeikoers voldoende is om hul eie lewenspeil te handhaaf.

Die sosialistiese projek is dus herbore as ’n poging om die kapitalisme te hervorm en nie om dit te vervang nie.

Sosialisme in Grondwet

In Suid-Afrika het die ANC onder oudpres. Thabo Mbeki die sprong gedoen van ’n verlinkse revolusionêr- sosialistiese party na ’n sentrumlinkse sosiaal-demokratiese party, wat sosialisme grondwetlik nastreef. Maar dis duidelik dat nie almal in die alliansie daardie sprong gedoen het nie en dat talle nog in die verlede vassteek.

Die Grondwet het ’n sosialistiese welsynstelsel in menseregteterme verwoord. Dit is in die Grondwet opgeneem in byvoorbeeld art.?26 en art.?27 in die vorm van die reg op behuising, gesondheidsorg, basiese dienste en bestaansekerheid.

Die groot rede vir die spanning in die regerende alliansie en opstande oor dienslewering is juis dat die Grondwet en die politieke proses verwagtings geskep het waaraan die staat en die ekonomie nie aan kan voldoen nie.

Die regering sit met oorweldigende politieke mag, maar kom te staan voor die werklikheid dat 5?miljoen belastingbetalers nie vir 50?miljoen mense kan sorg nie.

Tien hoofpunte van sosialisme

Maar wat is die kern van sosialisme? Hoe sien hulle die wêreld?

Die Kommunistiese Manifes van Karl Marx en Friedrich Engels is steeds die “ideologiese DNS” van die sosialisme, waarvan die voetspoor gesien kan word in baie van wat tans in Suid-Afrika gebeur.
Die tien hoofpunte kan as volg opgesom word:



Stryd: Die geskiedenis is die verhaal van ’n onversoenbare stryd tussen die besitters- en die werkersklas.
Onderdrukking: Ongelykheid is die ergste denkbare verskynsel en wat ontstaan weens uitbuiting en onderdrukking deur die “stelsel”.
Opstand (struggle): Die oplossing vir ongelykheid is dat die verdrukte werkersklas in opstand moet kom en hul onderdrukkers moet onderwerp.
Demokrasie: Die werkersklas moet veg om demokrasie omdat hulle getalsgewys die meerderheid van die bevolking vorm sodat hulle die politieke mag kan verkry.
Ekonomiese mag: Die politieke mag moet dan gebruik word om die ekonomiese mag te bekom. Demokrasie word beskou as politieke gelykheid en sosialisme as ekonomiese gelykheid. Politieke gelykheid sonder ekonomiese gelykheid is waardeloos. Daarom is daar woede teen die regering, wat volgens hulle nie hul oorweldigende politieke mag sterk genoeg wil gebruik om behoorlik vir die armes te sorg of staatsdienswerkers genoeg te betaal nie. Die regering “verraai die armes”.
Vergoeding: Mense se vergoeding moet volgens hul behoefte (m.a.w. verbruik) bepaal word en nie volgens hul produksie soos in die markekonomie nie. Daarom staak byvoorbeeld selfs onderwysers van wanfunksionele skole omdat hulle nie voel dat hulle betaal moet word volgens hul werk nie, maar volgens hul behoefte omdat dit geldelik met hulle swaar gaan.
Staatsrol: Die staat speel ’n oorheersende rol om die doelwitte van die regering te verwesenlik. Die staat moet die welvaart met belasting herverdeel, die bevolking met ’n welsyn­stelsel versorg en sorg dat daar in almal se basiese behoeftes voldoen word. Dit word gesien as maatskaplike geregtigheid en ekonomiese gelykheid.
Ras en klas: Kommunisme aanvaar klas as die enigste vorm van menslike groepering en verwerp ras, kultuur, taal en selfs nasionaliteit omdat dit die werkersklas verdeel. Suid-Afrika is ’n uitsondering en hier staan ras sentraal in die kommunistiese beskouing. Die alliansie se beleidstukke sê dat hul doel die “bevryding van swart mense in die algemeen en Afrikane in die besonder” is.
Aggressiewe politieke kultuur: Die politieke kultuur waaruit die ANC-alliansie kom, word gekenmerk deur aggressie weens die kernelemente soos struggle, onderdrukking en revolusie. Dis ’n goeie ideologie om ’n opstand te dryf. Dis die kernrede hoekom dié ideologie histories suksesvol was om die mag te kry, maar dan misluk het sodra hulle moes regeer. ’n Regeerkultuur stel totaal ander eise.
Gelykheid: Enige ongelykheid word beskou as genoeg bewys van verontregting wat teengestaan en “reggestel” moet word. Teenoor die Westerse gelyke geleenthede of ’n gelyke wegspring stel die kommunisme gelyke uitkomste of “gelyk by die wenpaal” as oorhoofse doel wat met staatshulp en staatsmag bereik moet word. Voordat daar nie hierdie gelykheid is nie, is daar nie sosiale geregtigheid nie en duur die struggle voort. Suid-Afrikaners kan nie kwalik geneem word as hulle soms aan ideologiese verwarring ly wanneer “nasionaliste” soos mnr. Julius Malema, ANC-jeugleier, nasionalisering voorstaan, maar die SAKP dit verwerp nie.

Die sosialistiese idee is egter ’n “wye kerk”, met sekerlik meer aanhangers buite die SAKP as daarbinne. Die party het beslis nie die alleenreg op die sosialistiese idee of -retoriek nie en dit is nie ’n vaste en onveranderlike raamwerk nie. Dit is ’n hoogs vloeibare idee en word gekleur deur politieke, ekonomiese en persoonlike agendas.

Kommunisme is nie dood nie; dit is weer springlewend in lande soos Suid-Afrika, maar lyk anders as in die dae van Marx, Lenin en die Sowjetunie.

Die stryd om idees is weer in volle gang en wie dit nie insien of ’n aanvallende idee met ’n beter idee kan beantwoord nie, gaan die slagoffer daarvan word.

Buys is uitvoerende hoof van Solidariteit.

No comments:

Post a Comment