Wednesday, October 20, 2010

Aanval uit Lesotho

Charles Smith



’n Burger van Lesotho is vermoedelik deur sy eie makkers doodgeskiet toe sowat 13 gewapende aanvallers ’n Vrystaatse plaas by Ficksburg helder oordag stormgeloop het.

Die aanval was ’n dag voordat genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, die Ficksburg-grenspos vandag besoek om hom te vergewis van die uitdagings waarmee polisielede elke dag hier mee te doen het.

Die Lesotho-burgers, wat glo met minstens twee haelgewere, kieries en klippe bewapen was, het die plaas Ionia aangeval om hul eie beeste terug te kry wat hier geskut is.

Hulle het toe die Simbra-bul van R35 000 van mnr. Sarel de Jager, eienaar, ook geroof. Hulle het die lyk van hul makker net so in die Vrystaat gelos voordat hulle oor die grens gevlug het. Hy is vermoedelik getref toe hulle skote bo-oor die beeste gevuur het.

De Jager is tans op besoek aan Amerika.

’n Ontstelde mnr. Coen Scheepers, bestuurder, het kort ná die aanval gister omstreeks 09:00 aan Volksblad gesê Lesotho-burgers pleeg gereeld weidingdiefstal op hul grond. Sy veiligheidswagte het gister die 38 beeste geskut wat onwettig op die plaas was.

“Hulle het in ’n V-formasie aangeval. Ek verneem hulle het minstens twee haelgewere en dalk ook handwapens gehad. Hulle het oor die beeste gevuur en my mense het weggehardloop.”

Hy was by die tandarts toe die wag bel en versterkings vra. Hy het dadelik gery en die polisie gebel. Op die toneel van die aanval het hy die lyk gekry; die aanvallers en beeste was reeds oor die grens. ’n Kierie het langs die lyk gelê.

Die skietery was sowat 1km van die plaashuis en ook 1km van die grens.

Scheepers sê een van sy wagte het ’n vuurwapen, maar het glo nie met hom geskiet nie.

“Die ouens het lankal te ver gegaan. Die regering doen net mooi bôggerol om die grens te beveilig. Nadat die skikking met Vrystaat Landbou oor die grenshofsaak bereik is, is niks gedoen nie. Die situasie word net erger. Ons boere veg alleen.”

Twee jaar gelede is ’n veiligheidswag vermoor.

Kapt. Harry Nagel, woordvoerder van die polisie, het gesê klagte van moord en diefstal word ondersoek. Die familie van die man wat doodgeskiet is, sal hom vandag kom uitken.

“Die polisie het ’n goeie verhouding met die gemeenskap oorkant die grens. Hulle glo hulle sal die mense sover kry om die skuldiges uit te wys. Die aanvallers was glo met klippe en kieries gewapen.”

Volgens Nagel is die man wat dood is, geskiet. Daar is ’n ingangs- en uitgangswond. Die veiligheidswag se vuurwapen is op beslag gelê en sal getoets word of hy geskiet het.

Mnr. Pinkie Craven, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou, sê hulle is baie bekommerd oor die grenstoestand. Lesotho-burgers stig brande in die Vrystaat om hul beeste op die groen gras te laat wei. Die grenspaaie word nie geskraap soos ooreengekom is nie. As daar nie ’n pad en heining is nie, is patrollies bitter moeilik.




- Volksblad

No comments:

Post a Comment