Tuesday, October 12, 2010

Regering se syfers is onbetroubaar – OG

Pieter du Toit
Kaapstad - Die regering se grondhervormingsyfers kan nie vertrou word nie, want daar bestaan nie genoeg stawende bewyse daarvoor nie.

Só het die ouditeur-generaal (OG) Dinsdag aan LP’s in die parlement gesê tydens ’n voorlegging oor die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming se geldsake in die boekjaar 2009-’10.

Jan van Schalkwyk, die OG se portefeuljebestuurder vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, het gesê grondhervormingsyfers vir verlede jaar is nie betroubaar nie. Dít ondanks die feit dat grondhervorming en grondherstel die hoeksteen van die departement se werk en een van die ANC-regering se vyf prioriteitsgebiede is.

Volgens die departement hou die staat by sy teiken van 30% van alle wit landbougrond aan swart boere teen 2014, maar kon hy die afgelope jaar slegs 239 000 ha uit ’n beplande 656 000 ha herverdeel.

Die redes hiervoor is dat hy sy begroting moes aanpas, R505 miljoen bestee is aan ’n nuwe ontwikkelingsprogram waarvoor nie begroot is nie, R208 miljoen gebruik is om waarborge aan ontluikende boere te gee en R254 miljoen om braak plase te herkapitaliseer.

Volgens Van Schalkwyk is dié syfers verdag.

Benewens die departement se onderprestasie in sy grondhervormingsprogram, kon hy ook nie daarin slaag om sy grondherstelteikens te behaal nie. Hy het minder as 10% van die beplande 1600 grondeise verwerk.

Die departement het nie behoorlike interne beheerstelsels nie en daar bestaan ook nie stelsels wat aan wetgewing voldoen om beplanning, monitering, hersiening en verslagdoening te rig nie.

Hy het ook kritiek uitgespreek op die leiers wat nagelaat het om vorige jare se ouditaanbevelings te implementeer.

Annette Steyn, DA-LP, was sigbaar woedend oor die OG se bevindings en het gesê dit help nie meer om vrae te vra nie, omdat dit jaar ná jaar dieselfde storie sonder enige verbetering is.

“Hierdie departement het ’n lang geskiedenis van teikens wat gemis word. Wanneer gaan ons ’n punt bereik waar ons sê genoeg is genoeg? Landelike ontwikkeling en grondhervorming is in ’n algehele chaos.

“Ek wil ’n amptelike beroep doen dat die departement aan ’n forensiese oudit onderwerp én dat die hulp van die spesiale ondersoekeenheid ingeroep word.”

Haar versoek hou ook verband met 32 ondersoeke na bedrog en korrupsie met die oordrag van grond en die betaal van vergoeding deur die departement.

Van Schalkwyk het haar sentimente beaam en gesê die departement is die kwesbaarste vir ongerymdhede wanneer dit by geld en grond – sy kernbesigheid – kom.

Volgens die OG het die departement verlede jaar sowat R53,3 miljoen weens bedrieglike bedrywighede afgeskryf. Dít hou verband met drie grondhervormingsprojekte in KwaZulu-Natal waar geld en grond aan skimeisers oorgedra is.

Steyn het gesê sy is bewus van gevalle waar eisers, wat tussen R4000 en R5000 per ha moes kry, uiteindelik sowat R45000 per ha in hul sakke gesteek het.

Die departement sal vandag op die OG se verslag reageer.

Die staat kon die afgelope jaar slegs 239 000 ha uit ’n beplande 656 000 ha herverdeel.

Die redes hiervoor?

R505 miljoen bestee is aan ’n nuwe ontwikkelingsprogram waarvoor nie begroot is nie

R208 miljoen gebruik is om waarborge aan ontluikende boere te gee

R254 miljoen om braak plase te herkapitaliseer.


- Die Burger

No comments:

Post a Comment