Monday, October 11, 2010

Rowers klouter oor ‘lyk’ in huis

Hilda Fourie
Hy het voorgegee dat hy dood is waar hy gewond in die gang gelê het terwyl die res van sy gesin in die huis weggekruip en vir hul lewe gevrees het.

Nadat aanvallers mnr. Harold Bentley (58), ’n pensioentrekker, in sy huis op die Andeon-hoewes in die weste van Pretoria geskiet het, het hulle die kamerdeur probeer afskop waaragter sy vrou, seun en skoondogter weggekruip het.

Mnr. Jonathan Bentley (23) en sy vrou, Sonja (29), het voor dié deur gaan lê om te keer dat hulle inkom.

Bentley jr. se ma, Coleen (54), was saam met hulle in die kamer.

Toe die rowers nie regkom nie, het hulle buite om die huis na die kamervenster gehardloop en dié gebreek om in te kom.

Die Bentleys het na die badkamer gehardloop en daar gaan wegkruip. Die aanvallers het dié deur ook probeer oopskop, maar kon dit nie regkry nie.

Dié nagmerrie het gisteroggend in die Bentleys se huis afgespeel kort nadat die alarm omstreeks 00:30 afgegaan het.

Bentley sr. is na die kombuis en het deur die venster gesien hoe mans om die huis beweeg.

Hy is terug na sy kamer, waar die aanvallers die kamervenster reeds gebreek het. Toe Bentley sr. in die deur staan, het hulle hom geskiet. Hy is in die regterskouer getref.

Bentley sr. het in die gang afgekruip, by die TV-kamer gaan lê en gemaak of hy dood is.

Mev. Bentley sr. het na haar seun se kamer gehardloop.

“Jy hoor hoe slaan hulle die ruite stukkend en weet jy het geen verweer nie,” het mev. Bentley sr. gister gesê. “Jy kan nêrens heen gaan nie.”

Toe die aanvallers nie by die Bentleys in die badkamer kon uitkom nie, is hulle na mev. Sonja Bentley se seun, Hanco Watkins (9), se kamer.

Hanco het regop in sy bed gesit toe twee mans by sy kamer inloop. Hulle het sy selfoon gevra en dié foon en nog ’n selfoon wat in sy kas was, gevat.

Die aanvallers het die res van die huis geplunder en kort-kort oor Bentley sr. geklim. Hulle het onder meer met juwele en ’n skootrekenaar weggekom.

Mev. Bentley sr. het die polisie en haar pa, mnr. Stan Davis (79), wat daar naby woon, gebel.

Bentley sr. is na ’n hospitaal geneem.

Ao. Louis de Bruin, polisiewoordvoerder, het gesê dié twee aanvallers word al ’n geruime tyd lank gesoek omdat hulle die mense in dié omgewing teister.

No comments:

Post a Comment