Monday, October 11, 2010

Derde huisroof in ’n week in dorp eis pa

Alta Snyman
Hartbeespoort. – ’n Pa is in die derde gewapende huisrooftog in minder as ’n week in ’n woonbuurt van dié dorp geskiet.

Mnr. Heinrich Heck (43) ’n senior ketelmaker in die Krokodilriviermyn se Marula-skag, is in die ambulans op pad na die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria dood.

Mnr. Romano van der Spuy, voorsitter van die misdaadforum vir sektor 1, het gesê Heck, sy vrou en twee kinders, ’n 16-jarige seun en ’n 14-jarige meisie, het eergisteraand omstreeks 19:30 in hul mynhuis in Svenstraat, Ifafi, sit en TV kyk toe twee gewapende mans by die oop buitedeur ingestap het nadat hulle ’n gat in die draadheining geknip het.

Die een man het ’n vuurwapen teen die seun se kop gedruk. Mev. Heck het gegil en opgespring. Die ander rower het agter haar aangehardloop.

Volgens me. Lizanie Nyce, ’n vriendin van mev. Heck, het mnr. Heck ’n glas gegooi na die rower wat die vuurwapen teen sy seun se kop gehou het en die het hom in die bors geskiet.

Daarna is albei indringers by die oop deur uit en deur die gat sonder om iets te buit of iets te eis. Hulle is glo albei lank en het donker klere aangehad.

Paramedici van die Hartbeespoort-noodreddingseenheid het minstens 45 minute lank op die toneel gespook om Heck se toestand te stabiliseer voordat hy na die hospitaal geneem is.

Nyce het gesê die gesin het sowat twee maande gelede in die huis ingetrek nadat hulle langer as 14 jaar in Brits gewoon het.

Sy het die egpaar as baie spontane, vriendelike mense beskryf. “Hulle geniet wat hulle doen en is nie moeilikheidmakers nie. Hulle is stil mense.”

Sy het gesê mev. Heck en die kinders is baie getraumatiseer en sal seker nie gou na die huis terugkeer nie.

Kol. Junior Metsi, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig ’n saak van moord word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

In die eerste van die drie gewapende rooftogte is mev. Dorie Booyens en haar gesin verlede Vrydagaand minder as 1 km van die Hecks af aangehou. Haar seun, Marius (28) is deur twee gewapende mans oorval toe hy in sy motor, ’n wit Ford Focus, in die motorhuis ingery het.

Gedurende die rooftog, wat sowat 15 minute geduur het, is onder meer ’n rekenaar, skootrekenaar, selfone, ’n hoëtroustel, trofeë en ’n muntversameling wat minstens R50 000 werd is, gesteel.
Die rowers het in die Ford Focus gevlug.

Maandag is mnr. Manie en mev. Linda Warren omstreeks 19:30 in hul huis in ’n veiligheidskompleks in Ifafi oorval en sowat twee uur lank aangehou. Die rowers het met onder meer juweliersware, televisiestelle, kontant en rekenaars gevlug.

Van der Spuy het gesê ’n tyd gelede het Ifafi gereeld onder misdaad deurgeloop, maar die laaste paar maande was dit stil.

“En nou drie gewapende rooftogte in ’n week.”

Die meeste rowers kom volgens hom van Diepsloot en Atteridgeville en is selde plaaslike mense. “Dis omdat hoofroetes na Gauteng, soos die R511, hier verbyloop. Dis vinnige wegkomkans.”

Hy het die gemeenskap gevra om by die buurtwagte betrokke te raak, “want dit is doeltreffend. Ons het Woensdagaand 40 buurtwaglede in die strate gehad en daar was geen voorvalle nie. Ek sê nie dit gaan misdaad wegvat nie, maar dit is beslis ’n groot afskrikmiddel.”

Hy het gewaarsku dat veral gewapende rowers graag vroegaand toeslaan.

“Mense kom van die werk af, hulle ontspan en is nie op hul hoede nie. Deure staan oop en alarmstelsels is afgeskakel.

“Mense moet altyd versigtig wees.”

No comments:

Post a Comment