Thursday, October 28, 2010

Sy is ontsaglik bang, vertel slagoffer van verkragting

Pieter Steyn



Terwyl haar verkragter haar verkrag het, het sy die hele tyd “Jesus, Jesus” gebid. Daarop was sy reaksie: “Jou Jesus kan jou nie nou help nie”.

Só vertel die tenger me. Monya Holtzhausen (23), wat Vrydag in die vroeë oggendure wreed verkrag is, nadat sy en haar verloofde, mnr. Quintin Steyn (24), en hul eenjarige seuntjie in hul huis op hul kleinhoewe by Estoire buite Bloemfontein oorval is.

Intussen is twee mans geïdentifiseer wat moontlik die polisie in hul ondersoek na die aanval en verkragting kan help.

’n Getraumatiseerde Holtzhausen het gister haar hart teenoor Volksblad oopgemaak. Sy is ’n aantreklike jong vrou met rooibruin hare.

Holtzhausen is vas oortuig die Here het haar gehelp dat die “duiwel haar nie seerder gemaak het nie”.

“Dit begin my nou erg vang. As ek net my kop op iemand anders se lyf kan sit, sal ek dalk beter voel,” het gesê.

“Ek is bang, ontságlik bang. Ek dink die realiteit tref my nou eers. Die werklikheid van wat met my gebeur het, sink nou eers in.”

Holtzhausen sê in dié stadium dra sy ’n verskriklike gevoel van haat teenoor die verkragters met haar saam.

Haar verloofde is “baie stil”.

“Hy praat darem nou oor die gebeure daardie oggend, maar dis ’n moeilike pad wat hy stap.”

Hul seuntjie is saans baie bang.

“Die sielkundige sê hy moet slaap, maar as jy nie by hom gaan lê en hom vashou nie, raak hy nie aan die slaap nie.

“Hy slaap ook baie onrustig.”

Holtzhausen se ouer suster sê Monya lyk sleg.

Dié suster wil ná dreigoproepe nie haar voornaam genoem hê nie,

“Monya is emosioneel óp. Sy probeer nog sterk wees. Sy is doodmoeg,” sê die suster.

Sy sê nie een lid van hul gesin slaap juis nie. “Ons almal se lewe is in ’n chaos gedompel. Sedert die dreigoproep, waarin hulle gedreig het dat ek en my ander suster ‘volgende’ is, kan ek nie eers meer werk toe gaan nie.”

Die ondersoekbeampte, ao. Richard Botha van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, sê twee mans is geïdentifiseer wat moontlik kan help met die ondersoek.

Mnr. Jimmy Lemane Chokchela, ook bekend as Pinkie of Rasta, is tussen 40 en 50 jaar oud, het ’n baard en het korterige “rasta-hare”.

Die tweede man wat dalk lig op die ondersoek kan werp, is mnr. Luckyboy Emmanuel Mogoera (27), ook bekend as Seun of Shoes.

Botha sê positiewe inligting word in dié stadium opgevolg.

Enigiemand met inligting oor dié twee mans kan Botha by 083-697-0982 bel.


- Volksblad

1 comment: