Wednesday, October 27, 2010

Jong gholfspeler sterf

’n GELIEFDE Vrystaatse gholfspeler en oudleerling van Grey-kollege in Bloemfontein is dood nadat hy na ’n plaas gejaag het om veediewe aan te keer en die bakkie omgeslaan het.

Mnr. Boeta van Wyk (21) van Ventersburg wat vir Vrystaat (o.16, o.18, o.21 en o.23) gholf gespeel het, het in die ongeluk veelvuldige beserings opgedoen en is in die Welkom-Medi-Clinic opgeneem. Hy is Vrydag oorlede.

Hy is deur familie as ’n liefdevolle mens beskryf wat geen vyande gehad het nie. “Hy was ’n reus met ’n groot hart,” sê sy tannie, mev. Theunie Kloppers van Bloemfontein.

Van Wyk het saam met sy ouers, Herman en Sandra, op Ventersburg gebly. Die gesin het plase buite dié dorp en het voor die ongeluk erg onder veediefstal deurgeloop. Van Wyk is verlede week Maandag na hul plaas Praatjies net buite die dorp, nadat ’n alarm weens veediefstal afgegaan het.

Hy was nog op pad na die plaas toe hy beheer oor die voertuig verloor het. Hy het uit die bakkie geval.

Dr. Attie van der Westhuizen, Welkomse chirurg, sê Van Wyk het sy nek, rug, sleutelbeen, femur en van sy ribbes gebreek. Sy long was ook gekneus en hy het ’n breinbesering opgedoen.

’n Bloedklont het vermoedelik tot sy dood gelei, maar dit moet nog deur die lykskouing bevestig word. Van Wyk se dood laat ’n groot leemte in familie en vriende se harte.

“Hy was ’n ongelooflike mens. Hy het nooit iemand kwaad aangedoen nie,” sê Klopper. Hy was ’n kranige gholfspeler wat ook vir die Vrystaatse plattelandse span gespeel het.

In 2007 was hy kaptein van Grey-kollege se eerste gholfspan wat die Suid-Afrikaanse skole-kampioenskapsbyeenkoms gewen het.

Van Wyk was vanjaar ook deel van die eerste gholfspan van Kroonstad se departement van korrektiewe dienste wat as die Noord-Vrystaatse ligakampioen aangewys is.

Hy word ook oorleef deur sy susters, Roné en Carna. Die gedenkdiens is môre om 14:00 uit die NG kerk Ventersburg. Die verassing is privaat.

No comments:

Post a Comment