Thursday, October 28, 2010

Student vol blou kolle ná arrestasie

Maygene de Wee

Kaapstad - ’n Student het kneusplekke aan haar arms, lyf en rug weens beweerde hardhandige optrede deur die polisie. Die polisie het haar aangekeer nadat sy oor ’n rooi verkeerslig gery het.

Volgens me. Trudie Conradie (23), ’n sang-en-drama-student in haar tweede jaar aan die Waterfront Theatre School, het ses polisiebeamptes in uniform haar Dinsdagaand in Durbanville van die pad gedwing. Hulle het haar uit haar motor gepluk, haar rondgestoot, op die grond neergedwing, op haar kop gestaan, haar hande agter haar rug geboei, in ’n polisievangwa gegooi en ook met pepersproei gespuit, het sy gesê.

Sy het gesê dit is omdat sy volgens hulle dronk bestuur en oor ’n rooi verkeerslig gery het.

Volgens Conradie was sy omstreeks 23:00 op pad huis toe toe sy by ’n rooi verkeerslig vlugtig stilgehou en toe oorgery het.

“Dit was laataand, ek was alleen in my kar en wou nie by ’n rooi verkeerslig stilhou nie.”

’n Blok verder, op die hoek van Paul Kruger- en Hibiskusstraat, het ’n polisievoertuig langs haar verskyn en beduie om af te trek. Conradie het gesê sy was bang en het aan hulle gewys dat sy verder gaan ry. Minute later het drie voertuie haar van die pad gedwing. Die ses polisiebeamptes het volgens haar uit hul voertuie geklim en op haar afgestorm.

“Ek het aan hulle probeer verduidelik dat ek na die naaste polisiekantoor of my huis wou ry. Ek wou nie wegry van hulle nie.”

Conradie ontken nie dat sy haar verset het nie, maar het gesê sy was bang, omdat sy alleen was, omring deur ses mans.

“Ek het nie eens geweet of hulle regtig polisiebeamptes is nie.”

Volgens haar het niemand enige identifikasie getoon nie.

Sy is by die Durbanville-polisiekantoor in ’n sel aangehou.

Sy is later na die Karl Bremer-hospitaal geneem waar bloed getrek is. “Hulle het my toe terug na die polisiekantoor geneem, waar ek weer in die selle aangehou is.”

Sy is eers omstreeks 06:00 toegelaat om iemand te bel, het Conradie gesê.

Die polisie erken dat hulle hardhandig teenoor Conradie opgetree het. Sers. Bernice Laäs-Bezuidenhout, polisiewoordvoerder, het gesê Conradie het haar verset. Sy het glo in die teenoorgestelde rigting gery en die “nodige minimum geweld” moes gebruik word om haar uit die voertuig te kry. Die beampte wat haar in hegtenis geneem het, het homself wel geïdentifiseer.
Conradie verskyn vandag in die Bellville-landdroshof op ’n aanklag van dronkbestuur. Sy en haar prokureur beplan om vandag ’n aanklag van aanranding teen die polisie in te dien.

- Die Burger

No comments:

Post a Comment