Monday, October 11, 2010

Rowers wond afrigter

André Damons en Pieter Jordaan

Die Leeus-afrigter en voormalige All Black-breier John Mitchell is gister in die vroeë oggendure in ’n huisrooftog in Johannesburg twee keer met ’n mes gesteek.

Hy is ná behandeling uit die hospitaal ontslaan. Gerugte dat sy lewe in gevaar is, is absoluut onwaar, het me. Krystle Geach, woordvoerder van die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU), gesê. “Hy sal môre (Maandag) terug wees op sy pos.”

Die held in dié verhaal is die span se kondisioneringsafrigter, Wayne Taylor. Taylor, ook ’n Nieu-Seelander, het by die badkamervenster uitgespring toe die booswigte aankom om die polisie te bel. Die twee deel ’n huis in Sesde Straat in Hyde Park.

Twee aanvallers het gisteroggend omstreeks 00:30 by die huis ingekom nadat hulle deur ’n klein kombuisvenstertjie geklim het, het ao. Moses Maphakela, polisiewoordvoerder, gesê.

Mitchell het toe pas in die bed geklim en gesien hoe iemand by sy kamer inkom. Hy het gedink dis Taylor wat die gek met hom skeer, opgespring en met “Wayne” begin stoei.

Dis toe dat die aanvaller hom met ’n mes in die regterbobeen en arm steek.

Die tweede aanvaller het die kamer binnegekom. Een van hulle het vir hom gesê: “Ons is nie hier om jou seer te maak nie, ons is hier om te vat wat ons kom kry het.”

Hulle het Mitchell vasgebind en twee skootrekenaars, ’n digitale kamera, ’n selfoon, drie iPods en ’n onbekende bedrag geld gesteel, het Maphakela gesê.

Taylor kon uitkom en die polisie bel. Die Bramley-polisie was kort daarna op die toneel.

Hulle het die skootrekenaars en kamera buite die huis gekry, maar die aanvallers was al weg.

Mnr. Kevin de Klerk, GLRU-president, het gisteraand laat gesê: “In hierdie stadium is die besonderhede oor die voorval baie vaag, maar ek weet dis nie ernstig nie.”

Mitchell (46) is verlede maand as die Curriebeker-afrigter van die maand aangewys nadat die Leeus onder dié voormalige All Black se afrigting weer na die krag van ouds begin lyk het. Die span het eindelik vyfde op die punteleer geëindig.

Hy het ’n driejaarkontrak geteken om die Leeus en die Super15-span af te rig nadat hy vrygestel is van ’n afrigtingskontrak met die Western Force in Australië.

No comments:

Post a Comment