Tuesday, October 12, 2010

Ses mans ontvoer man glo by hospitaal

Earl Coetzee



’n Roetine-hospitaalbesoek het vir ’n Bloemfonteinse man in ’n nagmerrie ontaard toe hy ontvoer en aangerand is.

Mnr. Pieter Beukes (39) het vermoedelik ure lank langs die pad gelê nadat hy gisteroggend glo in Willows ontvoer en later vasgebind langs Andries Pretoriusstraat afgelaai is.

As dit nie vir ’n barmhartige weldoener was nie, kon hy moontlik veel langer in die warm son gelê het.

Mnr. JB Heckroodt sê hy het gister omstreeks 13:00 in Andries Pretoriusstraat gery toe hy naby die Riversdal-afrit iemand in die gras langs die pad sien lê.

Hy het twee mans gaan oplaai en op pad terug stad toe het hy weer die man gesien en besluit om ondersoek in te stel.

Hy het toe op Beukes afgekom, waar hy vasgebind met draad, kleeflint en sy eie lyfband, gelê het.

“Sy arms was met sy lyfband vasgebind en daar was dik bruin kleeflint, soos die soort waarmee bokse toegeplak word, om sy keel gedraai,” sê Heckroodt.

Heckroodt het die polisie geskakel en Beukes begin losmaak.

Beukes se bene was so styf met draad vasgebind dat dit byna in sy vlees ingevreet het en hy geen sirkulasie gehad het nie.

“Selfs nadat ons die draad losgemaak en die ambulans opgedaag het, kon hy steeds nie staan nie.”

Beukes het vir Heckroodt vertel hoe ses gewapende mans hom gisteroggend vroeg reeds naby die Nasionale Hospitaal in hul wit Toyota-minibus, met ’n gebreekte voorste regterlig, ingelaai en aangerand het.

Beukes het glo gisteroggend vroeg die hospitaal besoek om sy epilepsie-medisyne te kry. Op pad hierheen het die mans hom oorval en in die minibus ingeboender. Hulle het hom aangerand voordat hulle hom vasgebind en langs Andries Pretoriusstraat afgelaai het.

Volgens Heckroodt het Beukes ook op die toneel ’n epileptiese aanval gehad, voordat hy na die Pelonomi-hospitaal gebring is.

Lt.kol. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, sê ’n klag van gewapende roof word ondersoek. Die rowers het niks anders as R10 gebuit nie. Daar is aanvanklik vermoed die mans het ook Beukes se selfoon gevat, maar die selfoon is later by sy huis opgespoor, waar hy dit vergeet het.

Volksblad kon nie gister met die slagoffer of sy familie in verbinding tree nie. Beukes was volgens inligting teen druktyd steeds in die hospitaal.


- Volksblad

1 comment: