Wednesday, October 27, 2010

Bekende Zim-tabakboer op sy plaas doodgeskiet

Sarel van der Walt
Een van Zimbabwe se voorste tabakboere is op sy plaas by Chigutu, sowat 100?km suidwes van Harare, vermoor.

Mnr. Kobus Joubert, ’n voormalige president van die Zimbabwiese tabakkwekersvereniging (ZTA) wat in sy 70’s was, is gisteroggend vroeg doodgeskiet.

Die vermoede is dat die aanval eerder misdadig as polities van aard was, het ingeligtes in Zimbabwe gister gesê. Joubert is een van sowat 20 kommersiële boere wat die afgelope tien jaar in Zimbabwe vermoor is.

Talle ander is wreed aangerand en van hul plase verdryf.

Joubert se vrou, Mariaan, het kort ná middernag ’n geraas gehoor en gaan ondersoek instel. Twee gewapende mans het haar aangeval. Sy het geskree om haar man te waarsku, maar die aanvallers het haar gedwing om stil te bly.

Sy het later ’n enkele skoot uit die slaapkamer gehoor, het Zimbabwe se Commercial Farmers’ Union (CFU) gisteraand in ’n verklaring gesê.

Toe mev. Joubert weer geskree het, het die aanvallers haar aangerand en geld geëis. Hulle het haar handsak, ’n onbekende bedrag Amerikaanse dollar, drie selfone en ’n skootrekenaar geneem.

In dié stadium het die krag afgegaan en die aanvallers het gevlug. Mev. Joubert is na haar man, maar hy was reeds dood.

Bure het die polisie ontbied wat baie vinnig op die toneel was.

Joubert word ook oorleef deur ’n seun wat in Australië is en ’n dogter in Zimbabwe.

No comments:

Post a Comment