Sunday, November 21, 2010

Vrou in tehuis vermoor

Kobus Pretorius

Die Burger


Kaapstad - ’n Inwoner van ’n tehuis vir bejaardes in Durbanville is Sondag verwurg in haar woonplek aangetref.

’n Berader moes ontbied word om mede-inwoners te ondersteun wat hewig ontsteld is oor die moord.

’n Verpleegster het Sondagmiddag afgekom op die lyk van Cornelia Kilian, 84, wat in ’n wooneenheid by Huis Aristea in Queenstraat gewoon het. Die tehuis is oorkant die Hoërskool Durbanville geleë.

“Die verpleegster het gesien dat die diefwering voor ’n oop venster verwyder is,” het sers. BerniceLaäs-Bezuidenhout, woordvoerder van die Durbanville-polisie, gesê. Die inhoud van Kilian se huis was omgedolwe en deurmekaar. Dit was Sondag nog onseker of iets gesteel is.

Kilian is vermoedelik tussen Saterdag 22:30 en gister 12:00 vermoor. Sy is Saterdagaand vroeg nog gesien. Sy het alleen gewoon.

Kilian word oorleef deur twee dogters. Een woon in die Kaap en die ander in die Oos-Kaap.

Geskokte inwoners is Sondagmiddag byeengeroep om hulle oor die voorval in te lig. Met Die Burger se besoek het ’n polisieberader hulle toegespreek en vrae beantwoord. Daar is voorgestel dat diegene wat die tehuis vir ’n rukkie wil verlaat, dit doen. Hulle is aangeraai om na hul kinders of familie te gaan.

“Die berader het baie mooi met die inwoners gepraat. Hulle voel definitief nou beter en meer gerus oor die voorval,” het Willem Agenbag, die bestuurder van Huis Aristea, aan Die Burger gesê.

Die tehuis het goeie sekuriteit en verskeie kennisgewings by die voordeur asook op die terrein en in die gebou waarsku mense dat die gebied 24 uur per dag deur kringtelevisie-kameras dopgehou word.

Agenbag het gesê dit sluit nie die wooneenhede langs die gebou in waar Kilian gewoon het nie.

“Ons wil graag ons sekuriteitstelsel uitbrei en dit by die wooneenhede asook die siekeboeg aanbring. Ons het tans eintlik ’n baie goeie sekuriteitstelsel. Ons sal dit nou na dié voorval weer hersien.”

Laäs-Bezuidenhout het gesê dit is nog onseker waarmee Kilian verwurg is.

“Dit is nog moeilik om te sê hoeveel verdagtes betrokke is. Ons weet ook nog nie hoe die verdagte(s) toegang tot die kompleks gekry het nie. Niemand het enigiets gesien nie.”



- Die Burger

No comments:

Post a Comment