Thursday, November 4, 2010

‘Daar was baie, baie bloed...’

Marietie Louw-Carstens
’nBekende egpaar van Musina se lyke is gisteroggend in hul bakkie op ’n verlate pad gekry nadat hulle vermoedelik Dinsdag vermoor is.

Mnr. Johan (54) en me. Anne­lise Greyvenstein (53) se Toyota-bakkie, met hul inkopies nog agterop, het onder ’n treinbrug op hul hoewe op die Campbell-pad, sowat 10?km buite die dorp, gestaan. Dit is sowat ’n kilometer van hul huis.

’n Buurman, mnr. Martin van Rensburg, het die polisie gebel nadat hy agterdogtig geraak het omdat hy die egpaar nie sedert Dinsdag gesien het nie.

Hy het gisteroggend saam met die polisie op die lyke afgekom.

Mnr. Greyvenstein is agter die linkeroor geskiet. Sy lyk, waaroor ’n seil gegooi is, het skuins bo-op sy vrou s’n gelê.

“Ek weet nie hoe sy dood is nie, daar was te veel bloed,” het Van Rensburg gesê.

“Daar was baie, baie bloed ... die moordenaar(s) het albei se skoene uitgetrek. Hulle was kaalvoet.”

Volgens hom lyk dit asof hulle in die bakkie geskiet is, maar lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê daar kan nog nie met sekerheid gesê word waar hulle vermoor is nie.

’n Zimbabwiër wat by hulle op die hoewe gewerk het, is sedert die moorde soek.

Die polisie is op soek na hom.

Me. Samantha Greyvenstein het gesê haar ouers het Dinsdagmiddag ná werk by haar in die dorp gekuier.

“My ma se laaste woorde aan my was: ‘Ek is lief vir jou, my kind.’ ”

Die polisie het haar gisteroggend gebel, het sy gesê.

“Hulle het gevra wanneer laas ek my ouers gesien het en watter klere hulle aangehad het.

“Hulle het nog dieselfde klere aangehad as Dinsdagmiddag.”

Volgens haar het die werkers by die Venetia-myn, waar haar ouers kontrakteurs was, hul toesighouers nie laat weet toe die Greyvensteins nie eergister vir werk opgedaag het nie.

Haar ouers is vermoedelik ingewag en oorval toe hulle Dinsdag omstreeks 18:00 op hul hoewe aangekom het. “Hulle is met hul eie rewolwer doodgeskiet,” het sy huilend gesê.

“Daar is geen teken van ’n struweling by die huis nie,” het sy gesê.

Otto het gesê dit lyk of iemand deur die dak van die Greyvensteins se huis geklim het. Dit is onduidelik wanneer dit gebeur het.

Die kluis is aan die kant met ’n hoekslyper oopgesny en mnr. Greyvenstein se rewolwer is daaruit gesteel.

Niks anders word vermis nie.

Van Rensburg het gesê van sy elektriese pompe is verlede Donderdag gesteel. Hy het Greyvenstein daarvan gesê.

“Ons vermoed ’n Zimbabwiër wat by hom gewerk het, het moontlik iets daarmee te doen.”

Otto het gesê teen druktyd is niemand nog in verband met die moorde in hegtenis geneem nie.

Mnr. Greyvenstein sou volgende Vrydag 55 jaar oud geword het. Die egpaar het sowat sewe jaar gelede van die dorp, waar hulle etlike jare gewoon het, na die hoewe verhuis.

No comments:

Post a Comment