Monday, November 15, 2010

Eienaar wil gastehuis sluit ná roof

Bettie Giliomee

Port Elizabeth

“Ek gaan my gastehuis sluit,” het die ontstelde eienaar van Halstead Farm B&B in Addo gesê nadat twee Duitse toeriste Saterdagaand in ’n kothuis op haar kleinhoewe beroof is.

“Die polisiëring in die gebied is te swak. Ek kan nie meer die veiligheid van my gaste verseker nie,” het dié vrou, wat anoniem wil bly, gesê. “Hier is ’n vlaag van inbrake by gastehuise in die omgewing. Ons is moedeloos.”

Vroeër vanjaar is ’n Duitse tiener wat by ’n ander gastehuis in die Addo-gebied tuisgegaan het ook in haar kamer oorval en verkrag.

Ná die jongste voorval het die Duitse egpaar mnr. Antreas Schligel (45) en me. Cornelia Scatter (in haar veertigs) aan die polisie vertel hoe vreemde geluide in die kothuis hulle Saterdagaand omstreeks 23:30 wakker gemaak het.

Kort hierna het hulle die twee mans gewaar wat die deur oopgedwing het. Hulle het aan die egpaar gesê hulle is kelners.

Volgens lt.kol. Priscilla Nai­du, ’n polisiewoordvoerder, het die mans, van iets in die twintig, die egpaar toe met messe gedreig.

“My gaste se hande is vasgebind met elektriese kabels en repe wat hulle van die gordyne geskeur het,” het die gastehuis-eienaar gesê. Die mans het die kamer deurgesoek en met die paartjie se persoonlike besittings, bankkaarte, euro’ s, paspoorte, ’n Canon-kamera, ’n Fortes-polshorlosie en juweliersware van sowat R85000 gevlug.

Dié voorval volg op die verkragting van die Duitse tienermeisie in Julie deur twee mans, gewapen met messe, in die chalet wat sy en haar neef by die Lenmore-gastehuis by Addo gedeel het.

Twee neefs is ná drie dae van intensiewe speurwerk deur die polisie by hul huise in Addo en Paterson in verband met die verkragting aangekeer. Hulle het in die hof verskyn, maar die saak is weens onvoldoende bewyse laat vaar.

“Die misdadigers raak vreesloos. Ons meld die voorvalle by die polisie aan. Hulle reageer vinnig, maar daarna hoor ons niks nie,” het die eienaar van Halstead uitgevaar. “As die verkragting van ’n Duitse tienermeisie die mense nie kan laat wakker skrik nie, sal niks dit kan doen nie.”

Dat twee ander verdagtes in September in verband met dié saak in hegtenis geneem is, bring ook nie eintlik troos nie.

Halstead se eienaar glo toenemende misdaad in die Addo-distrik sal toerisme en almal wat in die streek ’n bestaan daaruit maak, ernstig knou. “Ek sien self ook nie kans om ooit weer alleen hier te slaap nie,” het die vrou, wat alleen by die gastehuis was toe die voorval plaasgevind het, gesê.

Haar eiendom is beveilig met ’n heining met doringdraad en ’n sekerheidshek met afstandbeheer. Die twee waghonde het nie geblaf nie en sy weet nie hoe die aanvallers toegang tot die eiendom verkry het nie.

Intussen is daar hard gespook om die nodige dokumente uit Duitsland vir die beroofde egpaar te bekom. “Hulle wil die land so gou moontlik verlaat. Hulle het gesê hulle kom nooit weer Suid-Afrika toe nie en sal geen van hul vriende aanraai om die land te besoek nie.”

Volgens die gastehuis-eienaar was dit die Duitsers se tweede besoek aan die land en het hulle die middag voor die voorval by die gastehuis aangekom. Sy het gesê die toeriste was juis verras oor hoe positief mense in Suid-Afrika se ingesteldheid verander het, maar nou dink hulle heeltemal anders.

“Ironies genoeg het die rowers net die aandenkings wat in Suid-Afrika gemaak is en wat hulle gekoop het om terug te neem na vriende en familie in Duitsland vir die egpaar gelos.”





- Die Burger

No comments:

Post a Comment