Sunday, November 28, 2010

Pa 4 keer deur ruit geskiet

Hilda Fourie
’n Tweejarige meisietjie het tussen haar ouers gelê en slaap toe aanvallers deur die slaapkamervenster op hulle begin losbrand.

Toe die eerste koeël mnr. Marco del Fabbro (35) tref, het hy Antonella (2) van die bed afgeruk en haar in die gang gesit.

Hy is terug om sy vrou, Monya (37), te gaan help. Terwyl hy haar van die bed afgetrek het, is sy in die voet geskiet.

Del Fabbro is in die tussentyd nog drie keer raak geskiet.

Agt koeëldoppies is later op die toneel gevind.

Del Fabbro, wat Vrydag uit die hospitaal ontslaan is, het eergister vertel van dié nagmerrie wat voorverlede Donderdag in sy huis op ’n hoewe in Mooiplaats, in die ooste van Pretoria, afgespeel het.

Dié voorval is een van ’n vlaag soortgelyke voorvalle die afgelope tyd in die Boschkop-polisiewyk.

“Ons het net aan die slaap geraak toe ons albei wakker word van ’n snaakse geluid by die venster,” het Del Fabbro gesê.

“Dit is toe dat ek ’n skoot hoor. Een van hulle het die venster gebreek en die ander een het geskiet. Sommer so, van buite af.

“Om wakker geskiet te word, is belaglik.

“Toe ek besef daar word op ons geskiet, het ek die kleintjie gegryp en haar in die gang gaan sit.

“Ek het toe my vrou gegryp en haar ook in die gang ingedruk. Dit is toe dat hulle my vrou in die voet en my in die rug skiet.
“Hulle het my toe al reeds in albei lieste en in die heup geskiet.”

Mev. Del Fabbro het Antonella gegryp en na hul oudste dogter, Anya (12), se kamer gegaan. Anya het van die skote wakker geword.

Intussen het vier rowers deur die slaapkamervenster geklim.

Een het na Del Fabbro, wat terug in die kamer was, geloop en ’n vuurwapen in sy gesig gedruk. Hy het gesê Del Fabbro moet opstaan en op die bed gaan lê, want hy moet vasgemaak word.

Del Fabbro het gesê hy kan nie loop nie, want albei sy bene is raak geskiet.

’n Ander aanvaller het na Anya se kamer gegaan en ten aanskoue van die twee meisies ’n vuurwapen op hul ma gerig. Hy het mev. Del Fabbro na die hoofslaapkamer geneem terwyl Anya by die huilende Antonella gebly het.

Die aanvallers het heeltyd vuurwapens op die egpaar gerig terwyl hulle die hoofslaapkamer geplunder het.

Hulle het binne minute met hul buit gevlug.

“Toe die skote klap en ek getref is, het ek net geweet ons word aangeval.

“Ek sal my ergste vyand nie so iets toewens nie,” het Del Fabbro gesê.

No comments:

Post a Comment