Wednesday, November 24, 2010

100 van polisie is binne 2 maande vas

Hilda Fourie
Minstens 100 polisiebeamptes is in minder as twee maande in Gauteng gearresteer, meestal weens korrupsie.

Lt.genl. Mzwandile Petros, Gautengse polisiehoof, het eergisteraand op Robinson Regstreeks op kykNET gesê die polisie kyk indringend na polisiebeamptes se integriteit en waar die probleem lê.

Mnr. Francois Beukman, uitvoerende hoof van die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD), het op dieselfde program gesê in die laaste boekjaar het die OKD 6 300 klagtes gekry. Die meerderheid hou verband met swak dienslewering.

Altesame 860 van die klagtes gaan oor sterftes in aanhouding of weens polisie-optrede.

Volgens Beukman is 900 sake na die direkteur van openbare vervolging verwys vir ’n besluit rakende vervolging.

Die OKD het ook 1 600 aanbevelings oor lede se wangedrag aan die polisie gedoen.

In 48 gevalle is polisielede skuldig bevind weens hul betrokkenheid by misdadige aktiwiteite.

Die OKD het net nege klagtes landwyd rakende wangedrag van metropolisielede gekry.

Petros het gesê buiten vir die gevalle wat deur die OKD ondersoek is, het die polisie self 167 gevalle ondersoek van lede wat hulle aan misdadige aktiwiteite skuldig maak.

Minstens 100 polisiebeamptes is van 1 September tot 20 Oktober in hegtenis geneem.

“Daar is eerlike polisielede wat wil hê hul kollegas wat by misdaad betrokke is, moet gevang word,” het Petros gesê.

“Ons probeer vasstel waar die probleem lê, maar ons het die gemeenskap se hulp nodig.”

Volgens hom word korrupte polisielede wel ondersoek, maar is die persoon wat die omkoopgeld aanbied net so skuldig as die polisiebeampte wat dit neem.

Sedert Petros op 1 September vanjaar as Gautengse polisiehoof oorgeneem het, het hy die geveg teen korrupsie een van die pilare van die Gautengse polisiëringstrategie gemaak.

Kol. Neville Malila, Gautengse polisiewoordvoerder, het gister gesê toe Petros as provinsiale polisiehoof begin het, het hy binne agt dae sowat 15 000 polisiebeamptes toegespreek.

“Genl. Petros het toe vir die polisiebeamptes gesê as daar enige korruptes onder hulle is, beter hulle die polisie nou verlaat of hulle gaan gearresteer word.”

No comments:

Post a Comment