Wednesday, November 24, 2010

Gesin in rou ná moord op ma

Earl Coetzee
’n Bloemfonteinse gesin en die Mangaung-polisie rou saam nadat die lyk van ’n 36-jarige vroulike polisie-werker gisteroggend in Hospitaalpark ontdek is.

Mev. Amelia Henning, ’n ma van twee, administratiewe klerk by die Mangaung-polisiekantoor en ’n polisie-reservis, is blykbaar gisteroggend vroeg vermoor.

Haar naakte lyk is vroegoggend deur twee skoliere in die veld langs Pasteurrylaan in Hospitaalpark gekry. Sy is vermoedelik voor haar dood verkrag en het veelvuldige steekwonde in haar bors en gesig gehad.

Polisielede het gisteroggend die gebied naby die spruit in Pasteurrylaan met snuffelhonde vir leidrade gefynkam.

Dwayne Tebrugge (17) sê hy en sy vriend Alex Smith (14), van die Dr. Böhmer-skool, het omstreeks 07:30 hier verbygestap toe hulle die vrou se lyk in die gras sien.

Tebrugge het na ’n nabygeleë vulstasie gehardloop en die polisie gebel.

Hy het by die vulstasie op die polisie gewag en vir hulle gaan wys waar om die lyk te vind.

Henning is glo eergister omstreeks 19:30 laas lewend gesien toe sy by haar huis in Fowlerstraat, Hospitaalpark, weg is.

Mnr. Coenie Beukes, seun van die eienaar van die tuinwoonstel wat Henning gehuur het, sê sy het vleis uit hul vrieskas gehaal en gesê sy gaan iewers braai.

Sy het nie ’n motor gehad nie en het vermoedelik gestap na waar sy sou braai.

Lt.kol. Thandi Mbambo, ??provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie volg leidrade op en hoop om binnekort iemand in verband met die moord in hegtenis te neem.

Verskeie artikels, wat vermoedelik aan Henning behoort het, is op die toneel gevind.

Volgens inligting is Henning se selfoon gister net voor 02:00 die laaste keer gebruik. Die polisie vermoed sy is net ná 02:00 vermoor.

Henning se voormalige eggenoot, mnr. Frans Henning, het haar gister as “iemand met ’n baie goeie hart” beskryf.

“Sy was ’n baie goeie mens, wat aan depressie gely het en hard probeer het om haarself te verbeter,” sê hy.

“Sy het haar foute gehad, maar geen mens verdien om so verneder en verniel te word nie.”

Hulle is in 2005 geskei.

Mnr. Henning se huidige vrou, Marisa, sê gister was die moeilikste dag van haar lewe, want sy moes die nuus van hul ma se dood aan Henning se twee dogters, Megan-Lee (17) en Franschesca (10), oordra.

“Frans was uitstedig en ek moes vir hulle sê hul mamma is dood,” het sy tussen die trane deur gesê.

“Ek is seker sy het nie gegaan sonder ’n fight nie. Sy moes kliphard baklei het.”

Henning sê sy twee dogters was gister baie emosioneel. “Ek dink dit is veral vir Franschesca nog baie moeilik en amper onwerklik.”

Kol. Thandiwe Qhobosheane, bevelvoerder van die Mangaung-polisiekantoor, sê in ’n verklaring sy het nie die woorde om te beskryf hoe sy oor Henning se moord voel nie.

Volgens haar was Henning enig in haar soort en haar dood is ’n massiewe verlies vir die polisie.


- Volksblad

No comments:

Post a Comment