Tuesday, November 2, 2010

Rowers martel en slaan verlamde (67)

André Damons
Rowers het ’n 67-jarige gedeeltelik verlamde man met smeltende plastiek gemartel en met ’n sambok geslaan.

Mnr. Chris Bronkhorst van Walkerville, suid van Johannesburg, is met onder meer bloeding op die brein in die hoësorgeenheid van die Milpark-hospitaal in Johannesburg opgeneem.

Hy is sedert sy tweede beroerte verlede jaar gedeeltelik verlam in sy linkerarm en sleep sy been wanneer hy loop.

Hy het ook geheueprobleme.

Bronkhorst se vrou, Hester (60), ’n apteekassistent, is eergister ná 08:00 werk toe.

Vier mans het hom tussen 09:00 en 10:00 in die kombuis van hul huis op ’n hoewe oorval en aangerand.

Mev. Bronkhorst het gesê haar man se aanvallers moes haar dopgehou en toegeslaan het nadat sy weg is.

“Ek bel hom elke dag van die werk af, maar was Maandag baie besig en het nie kans gekry nie.

“Toe ek hom bel, het iemand geantwoord, maar die foon toe doodgedruk. Ek kon swart mans se stemme op die agtergrond hoor en het ons buurman gebel om te gaan kyk wat aangaan,” het mev. Bronkhorst gesê.

Mnr. Bob Rassert, die buurman, het gesê hy het geroep, maar mnr. Bronkhorst het nie geantwoord nie.

Toe mev. Bronkhorst ná 13:00 tuis kom, kon sy nie by die huis inkom nie omdat die booswigte haar man toegesluit en met die sleutels gevlug het.

Sy het van buite af met hom gepraat en hy het gesê is oukei.

Sy het ’n ekstra sleutel van hul huis by die bure gekry en haar man bloeiend agter die deur in die kamer gevind. “Daar was ’n bloedkol teen die kombuismuur só hard het hulle hom teen die muur gestamp. Hy is ook met ’n sambok oor die rug geslaan,” het mev. Bronkhorst gesê.

Die booswigte het mnr. Bronkhorst se hande ook met smeltende plastiek gebrand toe hulle nie wapens in die kluis kry nie.

Hulle het hom uit die kombuis na die kamer gesleep waar hulle hom gemartel het.

Die hele huis was omgekrap.

“Dit is ’n skok om jou man so te sien lê. Jy weet nie of hy lewe nie. Toe ek hom bel en hy antwoord nie, het ek geweet daar’s fout. Ek het gedink hy is dood,” het mev. Bronkhorst gesê.

Die booswigte het met onder meer juwele, ’n selfoon, horlosie en geld gevlug.

Die buit is sowat R10 000 werd.

Mev. Bronkhorst het gesê haar man onthou nie veel van die voorval nie.

“Watter mense brand plastiek op iemand se hande? Dit is nie mense wat dit doen nie,” het me. Caroniena Cameron, mev. Bronkhorst se suster, gesê.

Kapt. Shado Mashobane, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog gearresteer nie.

No comments:

Post a Comment