Tuesday, November 16, 2010

Rowers laat seuntjie speel voor hulle buit

Hilda Fourie
’n Rower het ’n driejarige seuntjie gisteroggend aan die hand gevat en na sy kamer geneem om met sy speelgoed te speel kort voordat sy ouerhuis in Sino- ­ ville, Pretoria, beroof is.

Dié seuntjie se 18 maande oue sussie het tydens die rooftog in haar bed gelê en slaap.

Ao. Ben Strydom, polisiewoordvoerder, het gesê die huishulp was omstreeks 11:30 besig om wasgoed op te hang terwyl die seuntjie op die gras by haar gespeel het. Twee mans, wat die voorhek oopgebreek het, het na haar gekom en gesê hulle is daar om ’n muur reg te maak.

Die huishulp het gesê sy weet niks daarvan nie.

“Terwyl sy die eienaar se foonnommer vir die mans neergeskryf het, het hulle vuurwapens uitgeruk en gesê sy moet in die huis ingaan,” het Strydom gesê.

“Die een man het die seuntjie aan die hand geneem en saam met hom na sy kamer toe geloop. Hy het hom met sy speelgoed laat speel waarna hy hom in die kamer toegemaak het.”

In die tussentyd is die huishulp in die sitkamer vasgebind en aangerand.

Volgens Strydom het die mans aan die huishulp gesê hulle is daar om die televisie te kom haal wat hulle nie in Junie, toe daar ’n inbraak in die huis was, kon kry nie.

Die mans het dié keer met toerusting gekom om die televisie te steel. Benewens die televisie het die mans ook ’n Blou Bul- en Springbok-trui, tekkies en drank geroof.

Hulle het in ’n Chana-voertuig weggery.

Strydom het gesê dit is die vierde voorval in drie maande in dié polisiewyk waar rowers ’n huishulp of tuinier helder oordag oorval en die huis beroof.

Tydens die vorige voorval sowat ’n week gelede het ’n man drie keer by ’n huis in Magalieskruin aangekom en vir die tuinier, mnr. Ernest Ramothopa (38), gesê hy soek die eienaar van die huis.

Mnr. Johan Fourie (69) het gister gesê hy en sy vrou Ria (69) was in Bela-Bela (Warmbad).

Teen 19:00 het die man teruggekom en daarop aangedring om met die eienaar van die huis te praat. Die man het voorgegee dat hy oor die tuinier se selfoon met Fourie gepraat het en dat Fourie hom toestemming gee om in die huis in te gaan.

In die huis het die man ’n vuurwapen op Ramothopa gerig en hom in die gastebadkamer toegesluit. Hy het hom later met pepersproei gespuit toe hy probeer uitkom het.

Toe Ramothopa weer probeer uitkom het, het ’n struweling tussen hulle ontstaan, waarna die man in ’n silwer Toyota Yaris gevlug het.

Hy het onder meer ’n kamera en juwele geroof.

No comments:

Post a Comment