Tuesday, November 16, 2010

Egpaar en hul werker op Limpopo-plaas vermoor

Marietie Louw-Carstens
’n Egpaar en hul werker is op ’n plaas in die Vivo-distrik sowat 70 km van Louis Trichardt in Limpopo vermoor.

Die polisie het gistermiddag op hul ontbindende lyke afgekom.

Mnr. Pieter Blomerus (Blom) van der Lith (65) se lyk was aan waterpype naby ’n dam op die plaas Zwartland vasgebind.

Sy vrou, Henna, se lyk is in die plaashuis gekry.

Haar hande was vasgebind.

Die plaaswerker, wie se naam nog nie bekend is nie, se lyk is in sy huis op die plaas gekry.

Lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê hulle is moontlik die naweek al vermoor.

’n Man wat gisteroggend lusern op die plaas wou gaan koop, het op die werker se lyk afgekom en die polisie ontbied.

Mnr. Van der Lith se Toyota Land Cruiser is sowat 20 m van sy lyk gekry.

Dit het minder as twee weke ná die gru-moorde op mnr. Johan Greyvenstein (54) en sy vrou, Annelise (53), van Musina (Messina) gebeur.

Hul lyke is op 4 November in hul bakkie gekry op ’n hoewe buite die dorp.

Niemand is nog weens dié moorde in hegtenis geneem nie.

Me. Marie Helm van TLU SA-noordstreek het gister gesê hulle is geskok oor die wrede moorde op die drie mense by Vivo.

Lede van TLU SA-noordstreek was teen vroegaand steeds op die plaas om die polisie te help soek na leidrade.

Otto kon teen druktyd nie sê of enigiets uit die plaashuis vermis word nie.

No comments:

Post a Comment