Tuesday, November 2, 2010

Boer sterf wreed in plaashuis

Warden - ’n Boer is Dinsdagaand in sy plaashuis vermoor deurdat hy na bewering herhaaldelik met ’n skerp voorwerp gesteek is.

Sy vasgebinde vrou het onbeseer daarvan afgekom, maar moes vir skok behandel word.

Die slagoffer is Christiaan van Wyngaard (43) van die plaas Goedehoop naby Warden. Sy vrou, Marie (55) is deur plaaswerkers met haar hande vasgebind gekry.

Sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die Valke, sê plaaswerkers het na bewering Woensdagoggend omstreeks 07:00 aan die deur van die Van Wyngaards se plaashuis geklop om hul werkgewer wakker te maak. Hulle het egter geen reaksie gekry nie.

Mophiring sê die werkers het daarna deur die vensters probeer loer en Van Wyngaard geroep.

Hulle het in die huis ingegaan waar hulle mev. Van Wyngaard op ’n rusbank gekry het.

Sy was bedek met ’n kombers en haar hande was agter haar rug met ’n plastieksak vasgebind.

Die werkers het haar hande losgemaak en mnr. Van Wyngaard gaan soek.

Hulle het hom dood in die egpaar se slaapkamer gekry en die polisie ontbied.

Volgens Mophiring is Van Wyngaard herhaaldelik met ’n skerp voorwerp gesteek.

Mev. Van Wyngaard is na ’n dokter gebring waar sy vir skok behandel is.

Volgens Mophiring was daar geen aanduiding van ’n inbraak nie en is niks gesteel nie.

Waardevolle items soos Wyngaard se beursie en selfoon was steeds in die huis.

’n Klag van moord word ondersoek.

Woensdag laat was niemand nog in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met inligting, word versoek om die naaste polisiekantoor of die Crime Stop-nommer by 08600-10111 te bel.


- Volksblad

No comments:

Post a Comment