Sunday, November 28, 2010

Bid maar, julle gaan nie môre sien nie’

Hilda Fourie
’n Sesjarige seuntjie het in sy pa se Land Rover weggekruip nadat aanvallers sy gewonde pa uit dié voertuig geruk en by hul huis in Donkerhoek, oos van Pretoria, ingeboender het.


Nadat die aanvallers sy pa, mnr. George Visser, en dié se lewensmaat, me. Zelda Keulder, met vuurwapens aangerand het, het hulle hom in die voertuig gaan haal.

Klein Zane Visser (6) het binne die huis reguit na Keulder toe gehardloop en toegekyk hoe die aanvallers hul huis plunder en op hulle skree.

Daar is deurgaans drie vuurwapens op hulle gerig.

“Ek het hardop begin bid,” het Keulder (36) gister buite die Pretoriase hospitaal, waar Visser opereer is, gesê.

“Die een het reguit vir my gesê ek kan maar harder bid, want ons gaan nie môre sien nie.”

Dié voorval is die vierde aanval in die Boschkop-polisiewyk, oos van Pretoria, in minder as ’n maand.

’n Tweejarige dogtertjie, Antonella del Fabbro, het onlangs op ’n kleinhoewe in Mooiplaats tussen haar ouers gelê en slaap toe aanvallers deur hul slaapkamervenster op hulle
begin losbrand het (berig op bl.4).

Visser (47) is eergisteraand deur sy voertuig se windskerm in die nek geskiet net toe hy voor sy huis gestop het.

Hy het vir Zane by ’n verjaardagpartytjie gaan haal.

Toe Visser getref is, het hy vir Zane gegryp en agter in die voertuig gegooi waar hy weggekruip het.

Keulder was omstreeks 21:00 besig om te werk toe sy vyf skote hoor afgaan.

Sy het na die voordeur gegaan om te gaan kyk, maar daar was reeds ’n man met ’n vuurwapen by die deur.

Die man het Keulder na die slaapkamer geneem en op die grond gegooi. Nóg twee aanvallers het Visser kort daarna in die kamer ingebring.

Visser en Keulder is elkeen drie keer met vuurwapens oor die kop geslaan. Die aanvallers het juwele en geld gesoek.

“Hulle het vir ons gesê ons gaan dit nie maak nie,” het Keulder gesê.

“Ek het begin hardop bid en vir Liewe Jesus gevra om hulle te help en te vergewe vir dit wat hulle aan ons gaan doen.”

Die aanvallers het die paartjie na die sitkamer geneem waar hulle gevra het: “Waar is die kind?”

Zane is toe uit die Land Rover gaan haal.

Terwyl die aanvallers die huis geplunder het, het ’n voertuig se lig hulle afgeskrik.

Dit was Visser se ma, Leona, wat ’n pynpil by hulle kom haal het. Sy bly net ’n paar kilometer daarvandaan.

Die aanvallers het met onder meer ’n skootrekenaar en selfone gevlug.

Buiten dat Visser gistermiddag geopereer is, moes Zane trauma-berading kry.

“Ek wens iets kan regtig hieraan (misdaad) gedoen word,” het Keulder gesê.

“Ons leef in ’n wêreld waar almal oorsee wil gaan. As ons net vir almal kan werk gee.”

No comments:

Post a Comment