Sunday, November 21, 2010

Inbrekers teister glo jong held nadat hy gesin red

Marisa Phillips



WELKOM. – “Ek weet nie of hulle agter my kind aan is omdat hy die inbreker geskiet het en of dit net inbrekers is nie.”

Só sê mev. Jackie Vermeulen van Naudéville wie se seun Riaan (16) Vrydagoggend ’n inbreker met sy eie vuurwapen geskiet het. Sedertdien was daar drie pogings om by die Vermeulens se huis in te breek en iemand het met kryt ’n rooi kruis op ’n boom voor hul huis getrek.

Vermeulen en haar gesin is nog in Bloemfontein waar haar man, Riaan, ’n operasie moes ondergaan nadat die inbreker hom in die bene geskiet het.

“Dit gaan goed met my man en die operasie was ’n sukses.”

Sy sê haar buurvrou het haar gebel en vertel dat daar vroeg Saterdagoggend iemand by die Vermeulens se hek was. “My buurman het vir hulle oor die heining geskree en hulle het weggehardloop. Die volgende oggend het hy die kruis op die boom gesien en ook plastiekbottels wat op die hek was.

“Saterdagaand het die alarm afgegaan en ook vroeg gisteroggend. Die sekuriteitsbeamptes het weer van die bottels op die hek gekry.”

Die bottels word vermoedelik gebruik om oor die skerp veiligheids­tralies te kan klim.

Vermeulen sê daar is nou ’n sekuriteitswag in haar erf en die polisie hou ook die huis dop.

Sy sê haar seun Riaan kry berading en sal nie nou sy eksamen kan voltooi nie.

“Hy is nog baie emosioneel, maar sê as hy weer in dieselfde situasies is, sal hy weer skiet om sy gesinslede se lewe te red.”

Die Vermeulens is vroeg Vrydagoggend deur twee mans, een met ’n vuurwapen, in hul huis oorval.

Mnr. Vermeulen is deur die inbreker in die bene geskiet en Riaan het sy pa te hulp gesnel en die inbreker met sy eie vuurwapen geskiet. Een rower het gevlug en die gewonde rower het in die bure se erf inmekaar gestort.

Hy is steeds in ’n kritieke toestand in die Bongani-hospitaal.


- Volksblad

No comments:

Post a Comment