Wednesday, November 17, 2010

Rowers arrogant by skool

Hilda Fourie
’n Gr. 6-leerling aan die Laerskool Rooihuiskraal in Centurion het gesien hoe ’n man op die skoolterrein ’n vuurwapen agter sy broek uithaal en dit onder sy blad wegsteek.

Terwyl dié seun gaan hulp soek het, het dié man en sy makker mnr. Gerhard Vögel (68), terreinbestuurder, “binne ’n minuut” in sy kantoor van geld en sy selfoon beroof.

Mnr. Ferdi Maree, skoolhoof, het gister gesê Vögel het eergistermiddag by die Absa-bank in die Lifestyle-winkelsentrum in die Ou Johannesburgweg ’n kleinkastjek gaan wissel.

Nadat Vögel die geld gekry het, het hy dit in sy sak gesit, om hom rondgekyk, by die bank uitgestap en terug skool toe gery.

Vögel het kort ná 13:00, toe die skool reeds uit was, by die skool aangekom.

“Net nadat oom Gerhard in sy kantoor ingestap het, was die twee mans daar,” het Maree gesê.

“Een het ’n vuurwapen teen sy nek gedruk en hom gedwing om te lê.

“Hulle het gesê as hy iets probeer doen, skiet hulle hom.

“Die ander een het sy hand in oom Gerhard se broeksak gesteek en die geld gevat.

“Hy het presies geweet waar die geld was. Hy het ook oom Gerhard se selfoon geneem.

“Dit het binne ’n minuut gebeur. In die tussentyd het ’n gr. 6-seun gaan hulp soek nadat hy gesien het hoe die man die vuurwapen agter by sy broek uithaal en onder sy baadjie indruk.

“Voordat enigiemand kon reageer, was die mans klaar by die skoolhek uit.”

Maree het gesê Vögel het die twee mans herken as twee wat in die bank gesit en vorms ingevul het toe hy daar was.

Hulle het hom tot by die skool agtervolg, maar Vögel het nooit agtergekom hy word agtervolg nie.

Die skool is ook ’n sentrum vir volwassene-onderrig.

Volgens Maree het onderwysers aanvanklik gedink die mans, wat netjies gekleed was, is daar om eksamen te skryf en het nog gevra of hulle reggekom het.

“Hierdie is tradisioneel die tyd van die jaar dat daar gesteel word, maar die arrogansie van dié mans om met ’n vuurwapen tussen volwassenes en kinders deur te stap, is verskriklik,” het Maree gesê.

No comments:

Post a Comment