Wednesday, November 3, 2010

Slapende Matie (19) gewond in koshuisroof

Malani Venter
Stellenbosch - Met ’n steekwond aan haar arm het ’n Stellenbosse student van ’n mode-ontwerpskool haarself in ’n koshuiskamer teen ’n aanvaller probeer verdedig.

Die 19-jarige student was Vrydagaand reeds aan die slaap in ’n kamer in die private koshuis Academia toe sy oorval is, het kapt. René Matthee, Stellenbosch se polisiewoordvoerder, gesê.

Sy was alleen in die kamer tydens die voorval.

Die jong vrou, wie se naam nie deur die polisie bekend gemaak is nie, het omstreeks 23:30 wakker geskrik toe sy iemand by die kamer in Bosmanstraat hoor inkom het.

Volgens Matthee het die student aan die Elizabeth Galloway Academy of Fashion Design in Tegnopark ’n onbekende man in die kamer gesien instap. Hy was geklee in ’n swart sweetpaktop met ’n kappie en swart handskoene.

“Die student het die verdagte weggestamp. Hy het op sy beurt probeer om haar stil te maak deur haar mond toe te plak met kleefband wat in die kamer gelê het. Hy het probeer om die kleefband met ’n mes, wat ook in die kamer gelê het, af te sny toe hy haar in die arm gewond het,” het Matthee die voorval beskryf.

’n Struweling het tussen die student en die man ontstaan.

Hy het daarna uit die kamer gehardloop. Hulp is ontbied, waarna die slagoffer mediese behandeling ontvang het.

Volgens Matthee was die kamerdeur nie gesluit nie.

Niemand is tot dusver aangekeer nie.

’n Saak van huisroof word ondersoek.

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om speurkonst. Claude Louskitt te bel by 073 942 0946.



Volgens die Universiteit Stellenbosch Risiko- en Beskermingsdienste (USBD) het die diefstal van waardevolle artikels uit koshuiskamers en inbrake by US-persele in vergelyking met die ooreenstemmende tyd in vorige jare toegeneem.

Daar word gekyk na hoëgehalte- deurslotte, die deurwagstelsel, die verdere bemagtiging van koshuisleiers en bewusmakingsaksies rondom die ontruiming van koshuise tydens vakansies.

No comments:

Post a Comment