Tuesday, November 2, 2010

Oor is byna af, maar sy baklei

Virginia Keppler
’n Vrou se oor is byna afgekap en haar arm gebreek toe sy teen vier mans met ’n panga en pikstele moes baklei om haar gesin te beskerm.

Tydens mev. Jackie Coomber (38) se struweling met die aanvallers het haar vrou, mev. Tessa de Villiers (37), haar lyf oor hul seuns, Anton de Villiers en Martin Matthee (albei 13), gegooi om hulle te beskerm en kalm te hou.

Die gesin van Brits is Vrydagnag in hul vyfmantent by die Trans Magalies-woonwapark in die dorp in hul slaap oorval.

Coomber se regteroor moes na dié aanval geheg word. Dokters het ook haar gebreekte regterarm geopereer om die senuwees in haar hand te herstel. Van Coomber se tande is ook losgeslaan en haar lyf is pimpel en pers van al die houe wat op haar neergereën het.

De Villiers het gesê hulle het die seuns die Vrydag na die woonwapark geneem om te gaan visvang.

“Ek het om middernag wakker geword toe ek die tent se ‘zip’ hoor oopgaan.

“Toe ek opkyk, het ek vier mans in die tent gesien. Een het ’n panga gehad en die ander drie pikstele.”

Die mans het Coomber dadelik begin aanval. “Hulle het in Engels gesê ons moet stilbly,” het Coomber gesê.

“Ek het gesê hulle kan alles vat, maar hulle het my begin slaan terwyl ek op my rug gelê het.

“Ek het na hulle geskop en het net die hele tyd gedink ek moet my mense beskerm.

“Ek het hulle darem lekker teruggeslaan en geskop. Ek het in die proses selfs Tessa se handsak gered,” het Coomber gesê.

“Toe Jackie langs my neerval en dit stil raak, het ek gehardloop om hulp te kry.”

Die gesin het drie dae lank gespook om die voorval by die polisie aan te meld.

De Villiers het gesê ’n polisievrou wat ook daar gekampeer het, het die polisie ontbied, maar hulle het nooit opgedaag nie.

“Die Brits-polisie en die Hartbeespoort-polisie het geweier om my toe te laat om die voorval aan te meld.

“By die Brits-polisiekantoor het ’n polisievrou gesê daar is nie skryfbehoeftes nie en dat ek die voorval nie namens Jackie, wat toe onder verdowing was, kan aanmeld nie.

“Ek is eers Maandag gehelp toe ek met ’n joernalis van die plaaslike koerant Brits Pos na die Brits-polisiekantoor is.

“Dieselfde middag het die polisie Jackie se verklaring gaan afneem,” het De Villiers gesê.

Brig. Mokhele Seboloki, stasiebevelvoerder, het vroeër aan Beeld gesê hulle ondersoek aanklagte van gewapende roof en poging tot moord.

Die aanvallers het met drie selfone en De Villiers se motorsleutels gevlug.

No comments:

Post a Comment