Monday, November 15, 2010

Kapers vermoor toeris

Kaapstad. – Net ’n dag nadat hulle vir hul wittebrood in Suid-Afrika aangekom het, is ’n Britse egpaar gekaap en die vrou later vermoor.

Volgens die Britse koerant Daily Mail se webwerf is me. Anni Dewani (28) en 'n skatryk sakeman, mnr. Shrien Dewani (30), twee weke gelede getroud en het in Somerset-Wes aandete geniet en toe besluit om die "naglewe in Gugulethu te ondervind".

Die vrou (28) se lyk is gisteroggend gevind in die pendelvoertuig waarin sy en haar man (31) saam met die motorbestuurder in Guguletu gekaap is.

Die motor het verlate langs ’n pad in die woonbuurt Lingele- thu-Wes in Khayelitsha gestaan.

Haar lyk was op die agtersitplek van die grys Volkswagen Sharan.

Die egpaar het Vrydag in die land aangekom. Hulle was glo óf op pad terug van óf op pad na die kuierplek Mzoli’s in Guguletu wat baie gewild onder toeriste is.

Die kapers het die vrou se man ’n ruk ná die kaping afgelaai langs die pad, waar hy deur ’n verbygaande motoris opgelaai is.
Hul name was teen druktyd nog nie bekend nie.

In ’n gesamentlike verklaring het mnre. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, en Albert Fritz, minister van gemeenskapsveiligheid, gesê die Britse egpaar was vroeër die aand by ’n geleentheid in Somerset-Wes.

Hulle is eergister omstreeks 23:00 by die kruising van twee strate in Guguletu oorval. Twee mans met handwapens het die motor genader, die bestuurder beveel om uit te klim en met die egpaar weggejaag, het die polisie gister in ’n verklaring gesê.

Omstreeks middernag het die kapers die man in Harare, Khayelitsha, afgelaai. Die verbygaande motoris het hom na die Harare-polisiekantoor geneem.

Die polisie het ’n “uitgebreide soektog” na die voertuig en die vrou begin en gister omstreeks 07:30 op die motor afgekom.
Die polisie wou nie gister sê hoe die vrou vermoor is nie.

“Iemand wat hier was toe die polisie die agterdeur oopgemaak het, het gesien die vrou is in haar nek gewond,” het ’n omstander op die toneel in Khayelitsha gesê.

Die polisie het met wit lakens ’n halfmaan om die Volkswagen gevorm sodat omstanders nie die lyk kon sien toe dit in die forensiese voertuig gelaai is nie.

“Hierdie ding is sleg, dis sleg,” het ’n vrou hardop uitgeroep. “Mense sal nou sleg dink van hierdie gebied.”

Mnr. Gary Benham, ’n woordvoerder van die Britse hoë kommissaris in Pretoria, het gesê hulle staan die naasbestaandes van die egpaar by, maar wou geen verdere besonderhede bekend maak nie.

Dit is nie bekend of enigiets gesteel is nie en die moordenaar(s) was teen druktyd nog op vrye voete.

In nog ’n aanval op toeriste eergisteraand het twee rowers ’n Duitse egpaar oorval in ’n gastehuis in Addo in die Oos-Kaap.
Mnr. Antreas Schligel (45) en me. Cornelia Scatter (in haar 40’s) is gedreig met messe, vasgebind en beroof, berig Bettie Giliomee. Die rowers het net die Suid-Afrikaanse aandenkings wat hulle vir vriende oorsee gekoop het, gelos.

“Hulle wil so gou moontlik die land verlaat,” het die eienaar van die gastehuis wat nie haar naam wou noem nie, gesê.

“Hulle het gesê hulle kom nooit weer Suid-Afrika toe nie en sal geen van hul vriende aanraai om te kom nie.”

Vroeër vanjaar is ’n Duitse tienermeisie by nog ’n gastehuis in die Addo-gebied in haar kamer oorval en verkrag.

No comments:

Post a Comment