Sunday, November 7, 2010

‘Ou wonde oop’ ná vrou se dood

Vicus Bürger
“DIE ou wonde is nou weer oopgekrap,” sê mnr. Johan van Vuuren, wie se ma dood is nadat sy en haar gesin maande gelede wreed op Jagersfontein deur mans met messe en grawe aangeval is.

Mev. Francina van Vuuren (75) is gister uit die Pinkster-Protestantse kerk in Hospitaalpark, Bloemfontein, begrawe.
Haar seun sê as dit nie vir die aanval op 21 Maart was nie, sou sy steeds geleef het.

Sy het ’n breinstambesering opgedoen nadat sy teen die muur gegooi en geskop is en moes gevolglik weer leer asemhaal.
Die seun sê sy ma was ná die aanval twee maande in die Pelonomi-hospitaal in die stad.

Sy is verlede Donderdag op Jagersfontein oorlede toe sy nie asem kon kry nie. Hy is oortuig dit was weens die breinstambesering. Sy ma en pa, Boet, broers, Marius en Marthinus, en broerskind, Juan, is in hul huis in Harringtonstraat op die dorp aangeval.
Die aanvallers het geen genade gehad nie en het ’n huis vol bloed agtergelaat.

Selfs Boet en Marius wat albei in rolstoele is, is erg aangerand.

Johan, ’n werknemer in die logistieke afdeling van die Grootvlei-tronk by Bloemfontein, sê hulle is almal baie hartseer en sy pa “trek veral swaar”.

“Hy verlang vreeslik na my ma.”

Volgens hom haat hy die mense wat sy geliefdes “onmenslik wreed” aangerand het. Mev. Van Vuuren word oorleef deur haar man, ses seuns en nege kleinkinders.

No comments:

Post a Comment