Monday, November 15, 2010

'Jy wou mos, wit hond'

Hilda Fourie
’N Pretorianer wat saam met sy vrou en huiswerker ses uur lank deur aanvallers aangehou is, is so hard en aanhoudend met pikstele geslaan dat sy arm gebreek en sy kopvel oopgebars het.

Mnr. Hennie Benadé (48) se tuinwerker, ene Julius, het in die aanval op sy kleinhoewe in Honingnestkrans, in die noorde van Pretoria, sy eie vuurwapen in sy mond gedruk en gesê: “Jou wit hond. Jy wou my mos klap.”

Julius werk al byna twee jaar aan en af in hul tuin.

Benadé en sy vrou was eergister kort voor 13:00 op pad huis toe nadat hulle ’n vrag bakstene afgelewer het.

Hy het sy vrou by die buurvrou afgelaai om hul hond, Peanut, op te laai.

Toe Benadé by die huis kom, het hy met Julius gepraat oor take wat hy moes verrig. “Ek het in die huis ingegaan en net verby die kroeg geloop toe een agter die yskas met my nuwe piksteel uitspring.

“Nog een het om die hoek uitgespring. Hy het my ou piksteel in sy hand gehad,” het Benadé gesê.

“Hulle het my aanhoudend geslaan. Om die beurt. Ek het elke keer probeer op kom, maar dan slaan hulle my weer. In ’n stadium het hulle my regterarm gebreek en my linkerhand met ’n mes gesny.

“Hulle het geld gesoek en my by die trappe opgesleep na die hoofslaapkamer toe.”

In die hoofslaapkamer het die aanvallers hom gedwing om die kluis oop te maak waarna hulle sy vuurwapen gegryp en hom eenkant gegooi het. Hulle het gekla die geld is te min, hom weer met die pikstele geslaan en na ’n ander vertrek waar nog ’n kluis was, gesleep.

Hy het met ’n gesukkel die kluis oopgemaak waar daar weer nie genoeg geld na hul sin was nie.

Dis toe dat Julius die vertrek inkom en Benadé se vuurwapen in sy mond druk.

Benadé se vrou, Ann (54), en die huiswerker, ene Susan, het opgedaag en hulle is op die grond laat lê.

Die volgende sowat ses uur lank was Benadé, sy vrou en hul huiswerker vasgebind terwyl dié tuinwerker en sy twee makkers die huis geplunder het. Hulle het later geld in mev. Benadé se handsak gekry. “Toe kom een met ’n bottel brandewyn aan,” het Benadé gesê.

“Hy het ’n sluk gevat, die bottel in my mond gedruk en gesê: ‘Suip, boer, as ek jou skiet, moet jy bedwelm wees.’

“Ek het gedrink totdat ek nie meer kon nie. Toe druk hy die bottel in my vrou se mond. Ons het dit binne ’n paar minute leeggedrink.”

Teen 19:00 het die aanvallers in die egpaar se Datsun-bakkie geklim en met hul buit gevlug. Benadé het hom losgewikkel en sy vrou gehelp om los te kom. Hulle het by die bure gaan hulp soek.

Die wond waar Benadé se vel op die agterkop oopgebars het, is met sowat 100 steke geheg.

Kapt. Katlego Mogale, Gautengse polisiewoordvoerder, het bevestig ’n huisroof word ondersoek. Niks is gese van 'n klag van poging to moord nie!

No comments:

Post a Comment