Sunday, November 21, 2010

Seun (16) skiet inbreker met eie wapen nadat hy pa wond

Marisa Phillips



WELKOM. – ’n Skoolseun se waaghalsige optrede hier het waarskynlik sy gesin se lewe gered toe hy ’n inbreker se vuurwapen afgeneem en die inbreker geskiet het.

Riaan Vermeulen (16) het die vuurwapen by die inbreker afgeneem nadat dié sy pa, mnr. Riaan Vermeulen, in albei bene geskiet het. Mnr. Vermeulen is in ’n stabiele toestand en na ’n hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas waar een van die koeëls verwyder sou word.

Mev. Jackie Vermeulen sê sy het gister omstreeks 02:30 wakker geword waar sy, haar man en twee seuns voor die televisie aan die slaap geraak het. “Twee mans was reeds in die huis en het ’n vuurwapen in my oudste seun se gesig gehad.”

Sy vermoed dat die inbrekers hulle met iets gespuit het, want haar man het steeds vas geslaap.

“Die inbreker het vir ons gewys om stil te bly, maar my man het wakker geword.”

Mnr. Vermeulen het dadelik op die inbrekers afgestorm. Een het weggehardloop en die ander een het hom in die gang in die been geskiet.

Hy het om hulp geroep.

“Riaan het die inbreker getakel en kon daarin slaag om die vuurwapen by hom af te neem. Hy het skote op die man gevuur en dié inbreker het ook die pad gevat. Dit was vir ons almal ’n baie traumatiese ervaring. Ek het gedink hulle gaan ons doodskiet. Riaan is baie bang dat hulle vir hom gaan terugkom.”

Vermeulen sê van die polisiebeamptes het vir haar gesê dit is twee inbrekers waarna hulle al lankal soek.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê albei die inbrekers het probeer vlug, maar die gewonde een het in die erf langsaan ineengestort. Hy is in ’n kritieke toestand in die Bongani-hospitaal.

Die tweede verdagte word nog gesoek.


- Volksblad

No comments:

Post a Comment