Monday, November 15, 2010

Sanger oorval ‘Moenie baklei nie, dan oorleef jy,’ sê rower

Wolfram Zwecker
Gisteroggend kort ná middernag het die “Baby tjoklits”- sanger Gerhard Steyn tydens ’n huisrooftog in ’n vuurwapen vasgekyk. Gisteraand was hy weer op die verhoog.

“Moenie baklei nie, dan oorleef jy,” het die rower aan Steyn gesê toe hy sy oë oopmaak en in die wapen vaskyk. “Daar gaan baie dinge deur jou kop, maar gelukkig het ek besef ek moet kalm bly en saamwerk,” het Steyn gister vertel.

“Daar was twee rowers – een langs my en die ander een aan die onderkant van die bed, albei gewapen.”

Steyn en ’n paar vriende het Donderdagaand agter sy huis in ’n veiligheidskompleks in Bartlett, in die noorde van Boksburg, gebraai.

“Almal is so middernag daar weg.

“Ek het ’n bietjie opgeruim, op die bed gaan lê, ’n bietjie TV gekyk en gaan slaap. Ek het nog die wekker vir 01:00 gestel sodat as ek aan die slaap raak, ek wakker kon word om die glasdeure toe te maak.”

Die slaapkamer is op die boonste vlak van die dubbelverdiepinghuis.

Hy het skaars sy oë toegemaak toe klop die rower aan sy skouer.

“Don’t fight, don’t fight,” het hy gesê terwyl sy makker met ’n flitslig van die onderpunt van die bed geflits het. “Hulle soek toe dasse, wat ek nie baie dra nie, en skeur die soom van ’n handdoek af waarmee hulle my hande en voete vasbind.

“Ek besef toe ek moet net kalm bly, anders is ek ook een van die statistieke. Die een aan die onderkant van die bed was die hele tyd daar terwyl die ander een stelselmatig deur die huis gewerk het.”

Die rowers het Steyn se hele tuis-teaterstelsel, wat sowat R100 000 werd is, uitgedra, die projektor netjies losgeskroef en uitgehaal, en ook sy kantoorrekenaar gevat, het hy gesê.

“My plasmaskerm-TV lê nog in die garage. Hulle kon dit nie in die kattebak kry nie.

“Ek versamel graag goeie naskeermiddels – dié het hulle alles net so van die bedkassie afgevat.

“Ek versamel ook oudhede en modelle van motors en daar het hulle twee Porsche-modelle gevat.

“In ’n stadium toe hoor ek – hulle het ’n duvet oor my kop gegooi – die een is baie opgewonde oor die BMW M6 wat in die garage staan.”

Steyn het die rower wat hom bewaak het, gevra om sy hande los te maak.

“Ek het jare gelede my skouer in ’n ongeluk seergemaak. Met dié dat my hande gedraai agter my rug vasgemaak was, het ek steekpyne gekry, maar die man wou niks weet nie.”

Net voordat die twee verdwyn het, het hulle Steyn gewaarsku dat hy 30 minute moet wag voordat hy die motor as gesteel aanmeld, “anders kom hulle terug – hulle weet waar ek bly”.

Toe dit stil word, het hy hom losgewoel en by bure gaan hulp soek en die polisie gebel.

Gisteraand het hy by die NG kerk Van Dykpark in Boksburg optree. “The show must go on,” het hy gesê.

No comments:

Post a Comment