Wednesday, November 10, 2010

Kruger-standbeeld moet waai, sê jeugliga

Cobus Claassen
Beeld

Johannesburg - Oom Paul se standbeeld op Kerkplein in Pretoria is weer in die ANC se visier.

Dié keer moet hy plek maak vir ’n standbeeld van Chris Hani, vermoorde sekretaris-generaal van die SAKP.

Die ANC-jeugliga (ANCYL) in Tshwane het Dinsdag gesê “oom Paul Kruger en sy generaals” moet verwyder word “omdat hulle ’n apartheidserfenis verteenwoordig en ’n bedreiging vir ons gemeenskap en toekoms inhou”.

Masket Mtshweni, voorsitter van die jeugliga in Tshwane, het gesê die koste van so ’n besluit is ’n bysaak.

“Die koste kan nie vergelyk word met die skending van menseregte wat ons mense gedurende die apartheidsera ervaar het nie.”

Volgens Mtshweni het hulle met ’n program begin waarmee hulle “die leierskorps” wil oortuig om die edel besluit te neem.

Dit sal gepas wees om Hani en die ander helde van die vryheidstryd op Kerkplein “te vier”, meen hy.

Dit is nie die eerste keer dat die voormalige ZAR-president se staanplek in die Pretoriase middestad in die gedrang kom nie.

Die ANC het die laaste paar jaar gereeld voorgestel ’n standbeeld van oudpres. Nelson Mandela moet op Kerkplein opgerig word.

Gabriel Twala, ’n uitgesproke ANC-raadslid in Tshwane en voormalige burgemeesterskomiteelid, het verlede jaar op ’n raadsvergadering gewaarsku Kruger se standbeeld “sal in ’n stadium móét waai”.

Dit blyk daar is verdeeldheid in die ANC oor Kruger se historiese waarde.

’n Tegniese komitee van Tshwane het verlede jaar ’n voorlopige verslag aan die burgemeesterskomitee voorgelê nadat hy ondersoek ingestel het na ’n geskikte staanplek in die hoofstad vir ’n beeld van Mandela.

Daar is in die verslag voorgestel dat dié standbeeld voor die Ou Sinagoge opgerig word “omdat dit is waar hy gedurende die Rivonia-hoogverraadverhoor van 1958 tot 1963 verhoor is”.

Kruger is in die verslag bestempel as “’n man wat self om vryheid geveg het”.


- Beeld

No comments:

Post a Comment