Sunday, November 7, 2010

Bejaarde boer vermoor

Earl Coetzee



’n Bloedbevlekte kous, kussingsloop en lap is die stille getuienis van die grusame moord op ’n bejaarde boer van Bloemspruit.

Dié drie artikels lê in die kamer in 23 Dennelaan, Bloemspruit, waar mnr. Callie Steyn Vrydagmiddag laat op die lyk van sy pa, mnr. Barend Steyn (73), afgekom het.

’n Verdagte is gister in die omgewing van die hoewe vasgetrek.

Nog inhegtenisnemings kan volg.

Steyn jr. het gister aan Volksblad vertel hoe ’n besoek aan sy pa Vrydag kort voor 18:00 in ’n nagmerrie verander het.

“Ek het in die erf ingery en vir my pa geskree, want hy kom gewoonlik uit om te groet net nadat ek ingery het.”

Toe sy pa nie uitkom nie, het Steyn deur die oop agterdeur die huis ingegaan .

Alles was deurmekaar.

Hy het uitgehardloop en vir sy vrou gesê om nie uit die motor te klim nie.

“Ek het weer ingegaan.

“Toe sien ek my pa in die tweede slaapkamer op die grond.

“Ek het eers gedink hy is geskiet, want ek het net bloed gesien.”

Die vermoorde Steyn het op sy maag gelê.

“’n Stuk lap was om sy kop en nek gedraai. Sy hande was agter sy rug vasgebind.

“Ek het hom omgedraai, die lap verwyder en gekyk of hy nog lewe. Ek het gevoel vir ’n pols, maar hy was koud,” het sy huilende seun vertel.

Langs sy pa se lyk het ’n piksteel en ’n strykyster, wat steeds ingeprop was, gelê.

Die piksteel, strykyster en ’n ysterstaaf is vermoedelik gebruik om Steyn te vermoor.

In die kamer waarin hy vermoor is, was ’n kluis.

’n Hoekslyper is in die kamer gekry en ’n breekyster het teen die bed gestaan.

Elektriese toestelle en kruideniersware in sakke is in die gange gepak, gereed om verwyder te word.

Callie en sy broer, Bennie, het begin om die waardevolle artikels en vee van die hoewe te verwyder, sodat dit nie gesteel word nie.

Hulle het ook veiligheidswagte aangestel om die hoewe te bewaak.

Die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad, die Valke, het gister ’n man weens die moord op hul pa in hegtenis geneem.

Die verdagte is in Bloemspruit vasgetrek.

Nog verdagtes kan binnekort in hegtenis geneem word.

Kapt. Elsa Gerber, polisiewoordvoerder, sê die vermoorde Steyn is Vrydag omstreeks 14:30 laas gesien, toe hy van die stad teruggekeer het.

“Dit is die skokkendste van dit alles,” sê Bennie Steyn. “Dat dit helder oordag kon gebeur.”

Hy het telkemale vergeefs sy pa gesmeek om by hom op sy hoewe te gaan bly.

“Hy het ’n eenvoudige lewe gelei. Hy het jare lank op die spoorweë gewerk.

“Dit was sy droom om te boer.

“Toe hy 20 jaar gelede afgetree het, het hy die hoewe gekoop en begin boer.

“Hy het almal gehelp en almal rondgery,” sê Callie Steyn.

“Hy het juis Vrydagoggend ’n vrou ingery stad toe om haar pensioen te trek.”

Steyn was ’n geliefde inwoner in Bloemspruit.

Die Steyn-broers hoop iets kan gedoen word om bejaardes wat op hoewes en plase woon meer bewus te maak van veiligheid, om soortgelyke voorvalle te keer.



- Volksblad

No comments:

Post a Comment