Sunday, July 29, 2012

Boere glo uitgebuit vir grond

Maryna Lamprecht JOHANNESBURG. – Boere word glo geboelie om plase met grondeise op vir net sowat 60% van markwaarde aan die regering te verkoop. Agri SA het ’n lys van meer as 400 boere in Suid-Afrika wat beweer hulle is slagoffers van die regering se “slinkse taktiek”. Talle boere op die lys, van wie party in sak en as sit en geen heenkome het nie, het vertel hulle is “gedwing” om hul grond teen ’n fraksie van die markwaarde aan die regering te verkoop. ’n Piesangboer wat anoniem wil bly, het gesê amptenare van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming het ’n grondwaardeerder na sy plaas gestuur om die waarde te bepaal. Die departement het ’n aanbod gelykstaande aan die markwaarde aan hom gemaak. Hy het die aanbod aanvaar en ’n koopkontrak ontvang, onderteken deur die grondeisekommissaris. Hy het dit geteken. Maande later, terwyl hy gewag het vir die koop om deur te gaan, het die departement hom ingelig dat hulle net 60% van die bedrag waarop ooreengekom is aan hom gaan betaal. “Hulle sê net eenvoudig daar is nie genoeg geld om die grond mee te koop nie, so dit is hoe dit is. “Ek het terugverwys na die ooreenkoms, maar hulle het gesê die transaksie is onderhewig aan goedkeuring van die minister van landbou en die minister het die bedrag afgekeur. “Hulle onderhandel dan weer met jou oor die prys, maar dit gaan oor kleingeld. Hulle is bereid om sowat 5% meer te betaal net sodat hulle kan sê hulle het weer onderhandel.” Die boer het gesê ’n mens kan die prys in die hof betwis, maar bygevoeg: “Die koste is te hoog en dit sloer jare lank, terwyl jy dan reeds ooreenkomste aangegaan het om nuwe grond te koop.” Ander boere met wie Volksblad gepraat het, het gesê dieselfde het met hulle gebeur. Sommige is met leë hande by hul plase weg, omdat die koopprys net hul skuld op die grond gedek het en al hul spaargeld en pensioen wat in die plaas belê is, is ook daarmee heen. Volgens dr. Theo de Jager, adjunkpresident van Agri SA, het hulle die saak reeds in 2008 na die Menseregtekommissie (MRK) verwys omdat dit “’n menseregtekwessie is wanneer jy van jou grond vervreem word vir politieke redes en minder as markwaarde betaal word”. “Die MRK het niks gedoen nie. Ons het lêers vol korrespondensie aan hulle gestuur, maar ’n jaar later het hulle gesê hulle kyk nog na die saak.” Pulane Molefe, woordvoerder van die departement, het gesê hulle hoef nie markwaarde aan die boere te betaal nie, hoewel die waarde in ag geneem word. “Ons kyk ook na die gebruik van die plaas, die geskiedenis daarvan en hoe dit bekom is en bepaal dan ’n prys. “As die boer ontevrede is, kan hy hof toe gaan.” - Volksblad

No comments:

Post a Comment