Wednesday, July 25, 2012

Boere ‘kan oor onsekerheid nie in plase belê’

Maryna Lamprecht JOHANNESBURG. – Hy kan boere nie in dié stadium aanraai om in hul plase te belê nie, het dr. Theo de Jager, adjunkpresident van Agri SA, gister gesê. “Soos sake op die oomblik staan, kan dit (die ANC se beleidsvoorstel tans) beteken dat enige plaas enige tyd teen enige prys onteien kan word.” Daar is meer onsekerheid as ooit onder Suid-Afrikaanse boere ná die ANC-beleidskongres verlede maand, het De Jager op ’n konferensie van die F.W. de Klerk-stigting in Johannesburg gesê. Die stand van sake skrik boere af om in hul eie grond te belê en hul boerdery uit te brei omdat hulle nie weet of hulle nog daar gaan wees om die opbrengs te sien nie, het hy gesê. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, het tydens die beleidskongres gesê boere hoef nie bekommerd te wees nie omdat die regering hulle nie sal destabiliseer of voedselsekuriteit in gedrang sal bring nie. De Jager het egter gesê daar is kommer en vrees onder boere dat hulle plase onteien sal word met vergoeding, maar vir ’n prys ver onder die markwaarde. - Die Burger

No comments:

Post a Comment