Sunday, July 8, 2012

KURUMAN-MOORD: 'Wat moet ek vir my kinders sê?'

Charné Kemp KURUMAN. – Op die dag waarop AfriForum, verskeie sakemanne en inwoners op Kuruman beswaar gemaak het teen plaasaanvalle en geweldsmisdaad, is ’n bekende en geliefde sakeman, John Arthur (At) Fraser (56), eergisteraand in sy huis doodgeskiet en sy vrou, Maryna Fraser (54), ernstig in die skouer gewond in ’n rooftog. Net ’n klein bedrag kontant, ’n handwapen en ’n haelgeweer is gebuit. Maryna is gisteroggend na die Mediclinic Kimberley gebring om ’n operasie aan haar skouer te ondergaan om haar sleutelbeen te heg. Sy en haar familie was te geskok om met die media te praat. Die voorval het net voor 22:00 by hul huis in Steenbokstraat in Seodin gebeur. Fraser se seun, Hugh, en skoondogter, Rina Fraser, sê vier rowers het die huis binnegestorm. Die mans het klapmusse gedra en nie eens gepraat of vrae gevra voordat hulle losgebrand het nie. “Hulle het dadelik op my skoonpa begin skiet wat op die bank gelê het. Hy is in die hart getref en het dadelik sy bewussyn verloor. Die rowers het my skoonma met hul wapens gedreig en na die kluis gedwing waar die geld en wapens gesteel is. Hulle het haar geskiet en gevlug,” het Rina gesê. “Dit het haar ’n rukkie geneem om ons te bel. Ons was dadelik op die toneel. Die nooddienste, ER24, het my skoonpa probeer red, maar dit was vergeefs. My skoonma is eers na die Mediclinic Kathu geneem, en gisteroggend na die Mediclinic Kimberley oorgeplaas. “Ek weet nie wat om vir my twee kinders, klein John Arthur (4) en Dené (2), te sê nie. Hulle was vreeslik lief vir hul ouma en oupa. Hul ouma het hulle elke dag besoek. Sy behoort vandag huis toe te kom en dan sal ek my kinders na haar neem,” het sy gesê. Die Fraser-gesin het al talle tragedies beleef. Fraser se eerste vrou, Ina, is in 1988 in ’n motorongeluk oorlede en sy dogter, An­necke, op 22 in ’n vliegongeluk. Fraser en sy tweede vrou het ’n dogter, Michelle Fraser (20). Maryna Fraser het ’n dogter, Marli Janse van Rensburg, en ’n seun, Jaco van Staden, uit haar eerste huwelik, en twee kleinkinders. Fraser was die eienaar van die lugverkoelingsonderneming Frasco. Sy seun en stiefseun was mede-aandeelhouers. Die polisiewoordvoerder lt. Andrea Cloete sê die rowers, wat by die agterdeur ingekom het, het weggekom met geld, gewere en ’n selfoon. “Die polisie sal geen steen onaangeroer laat om die moordenaars te vind nie. Die publiek word gewaarsku om nie die mans te konfronteer nie. Hulle is gevaarlik en gewapen. Mense moet eerder kol. Fire van Vuuren bel by 082-495-4679 om inligting te verskaf. - Volksblad

No comments:

Post a Comment