Thursday, July 26, 2012

Aanvalle op boere is nóg nie volksmoord, sê Yank

Sarel van der Walt Daar is nie genoeg bewyse dat geweldsmisdade op wit boere in Suid-Afrika volksmoord is nie, maar daar is tekens dat dit kan gebeur. Só het dr. Gregory Stanton, president van die Amerikaanse organisasie Genocide Watch, gister op ’n byeenkoms van die landbou-organisasie TLU SA in Pretoria gesê. Stanton, wat onder meer betrokke was by die stigting van die internasionale tribunaal oor volksmoorde in Rwanda en Burundi, het voorgestel ’n onafhanklike internasionale organisasie moet ondersoek instel of volksmoord wel aan die gang is of beplan word. Dr. Johan Burger, ’n oud-polisiegeneraal wat nou aan die Instituut vir Sekerheidstudie verbonde is, het aan Stanton gesê hy is baie skepties oor of geweldsmisdade op plase wel volksmoord is. Hy is wel bekommerd oor die baie plaasaanvalle, maar as polisieman en navorser het hy die afgelope 13 jaar nog geen bewyse gevind dat plaasaanvalle en -moorde inderdaad volksmoord is nie. “Ons het ook nie bewyse gevind dat daar grootskaalse politieke organisasie agter die moorde is nie.” Stanton het hierop gesê: “Ons het nog nooit gesê dat volksmoord hier plaasvind nie omdat ons nog nie bewyse gevind het dat dit (die aanvalle) polities georganiseerd is nie, maar daar is tekens van volksmoord en daar is genoeg vermoede dat dit georganiseer word.” Stanton, wat die land as gas van TLU SA besoek en met ’n verskeidenheid individue en organisasies gepraat het, het gesê hy sal met invloedryke mense na aan die Amerikaanse regering praat oor wat in Suid-Afrika aan die gang is. Die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) kom volgens hom “uit die kommunistiese handboeke wat massamoord op klas-vyande insluit”. Stanton het gesê die belangrikste wapen in die stryd teen volksmoord is plaaslike teenstand. “Gebruik die howe, die politieke stelsel, álles, maar moet om vadersnaam net nie ontwapen nie.” ’n Rasseoorlog moet tot elke prys vermy word. “Ek is nie oortuig dat plaasmoorde ‘net per ongeluk” plaasvind nie. “Ek besef Suid-Afrika het ’n hoë misdaadsyfer, maar wat my verbaas is dat moord op boere drie keer hoër as die res van die gemeenskap is. Plaasmoorde moet soos transito-rooftogte vroeër tot prioriteitsmisdaad verklaar word.”

No comments:

Post a Comment