Sunday, July 29, 2012

Nog ’n SUT-student vermoor

Estée de Villiers ’n JONG student is een van minstens twee mense wat die naweek in Bloemfontein vermoor is. Die lyk van die 23-jarige student aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) is Saterdagaand laat op die hoek van Eerste Laan en Parkweg, in Willows, gekry nadat hy met ’n mes in die bors gesteek is. Enkele blokke weg is die lyk van Johannes Ludick Wiesner (46) in sy woonstel in Roselaan, Wilgehof, gekry. Die student se lyk is glo deur ’n voetganger gekry. Die nooddienste is ontbied en hy is op die toneel dood verklaar. Volgens paramedici is die student met ’n mes in die bors gesteek en het hy hom waarskynlik doodgebloei. Paramedici wat Saterdagaand op die toneel was, sê ooggetuies het gesê die student, ’n inwoner van die Loggies-koshuis op die SUT-kampus, het in die rigting van die kampus gestap toe ’n onbekende man by wie hy verby geloop het, hom teruggeroep het en met ’n mes in die bors gesteek het. Dit is die vierde SUT-student wat sedert April verlede jaar vermoor is. Die polisie kon gistermiddag nog nie die student se naam bekend maak nie omdat sy familie nog nie van sy dood in kennis gestel is nie. Die SUT se woordvoerder was nie beskikbaar vir kommentaar nie. Die student het glo net sy huissleutels by hom gehad en geen selfoon of beursie nie. Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die polisie weet nie wat die motief vir die moord was nie. Wiesner se lyk is glo deur sy verhuurder in ’n plas bloed in sy woonstel gekry. Hy het vermoedelik aan kopbeserings gesterf. Volgens Marope is ’n bebloede hamer op die toneel gevind. Hy sê die polisie is onseker of enigiets uit die woonstel gesteel is. Die polisie ondersoek albei sake. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. - Volksblad

No comments:

Post a Comment